Skip to main content
ʼn Uitdaging aan studente: Lanseer ʼn Kishou-idee

ʼn Uitdaging aan studente: Lanseer ʼn Kishou-idee

Rozanne Engel - Corporate Communications / Korporatiewe Kommunikasie
06 Julie 2018

Is jy 'n entrepreneur of 'n innoveerder? Wil jy graag 'n deel van R70 000 of ontwikkelingsteun vir jou beginnerbesigheid wen? Skryf dan jou beste Kishou-idee vir 'n beginnersbesigheid in.

Die LaunchLab, in vennootskap met die Studenteraad en die Kantoor van die Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies is op soek na idees vir beginnerbesighede in verskeie sektore – die lys sluit onderwys, gevorderde vervaardiging, kunsmatige intelligensie, datawetenskap, sosiale innovasie, agritegnologie en voedsel in, en daar is nog meer.

Lanseer ʼn Kishou-idee is hoofsaaklik bedoel vir beginstadiumbesigheidskonsepte en -prototipes, en beginstadiumbesighede van studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) wat graag hulle idees wil uittoets of hulle tegnologie-aanbod aan hulle mark wil verbeter, en wegtrekkrag wil opbou vir die oplossings waaraan hulle tans werk.

Volgens Pius Illah, Kommunikasieskakelbeampte by die LaunchLab, is die inisiatief ook gedryf deur die behoefte aan die bevordering van innovasie en entrepreneurskap aan die US. “Die land beleef tans ʼn ontsaglike werkloosheidskrisis, en die beste manier om die volgende generasie met nuwe hoop te vervul, is om die kultuur van werkskepping deur innovasie en entrepreneurskap aan te moedig. Die voordeel van so ʼn “lanseerplek" is dat dit aan jong studente ʼn platform bied om hulle konsepte en idees ten toon te stel. Hierdie kompetisie is ʼn siftingsproses waarna die LaunchLab as ʼn entiteit wil help om die blinkste kishou-idees verder te ontwikkel."

Om in te skryf, moet studente ʼn video van drie minute van hulle konsep of idee voorberei wat hulle dan aanlyn moet oplaai deur die inskrywingsvorm op die LaunchLab-webwerf (https://launchlab.co.za/suideasmash2018/) in te vul.

Die video-“lansering" moet op die volgende fokus:

  • probleemstelling
  • waardeproposisie
  • verduideliking van die kommersiële lewensvatbaarheid van die voorgelegde kishou-idee
  • die sosiale impak van die kishou-idee
  • die span

Inskrywings vir Lanseer 'n Kishou-idee sluit op 27 Julie 2018. Die 10 idees wat die kortlys haal, moet op 7 Augustus aan die beoordelaarspaneel voorgelê word. Die finaliste sal na die LaunchLab se Lanseerplatform uitgenooi word, waar hulle vier minute sal kry om hulle besigheid bekend te stel. Die beoordelaars kry vier minute om aan die entrepreneurs vrae te stel, en sal die kishou-konsepte en -idees aan die einde van die aand aanwys.

Elke kishou-idee of -konsep word soos volg beloon:

  • ʼn deel van die totale prysgeld, wat R70 000 beloop;
  • ʼn sertifikaat van erkenning vanaf die Kantoor van die Rektor vir Navorsing en Innovasie; en
  • ontwikkelingsteun deur die LaunchLab.

Vir verdere inligting oor Lanseer ʼn Kishou-idee, stuur ʼn e-pos na [email protected].​

Foto verskaf van The LaunchLab.