Skip to main content
ʼn Dag in die lewe: August Engelbrecht

ʼn Dag in die lewe: August Engelbrecht

Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anél Lewis]
15 Mei 2023

​Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die US. In hierdie onderhoud vertel Engelbrecht ons meer oor sy werk.

August Engelbrecht is ʼn naguil wat saans sy administratiewe werk kan afhandel sodat hy bedags op sy eerste liefde kan fokus – om voornemende ingenieurstudente te werf en uitreiksessies te organiseer. Wanneer hy nie op die pad is om nuwe studente te ontmoet of die Universiteit Stellenbosch (US) te bevorder nie, hou Engelbrecht hom met katoeters, sy liefde vir olifante en antieke meubels besig.  

Wat behels jou rol by die US?

Die Fakulteit Ingenieurswese het al langer as 30 jaar iemand wat vir die geteikende werwing van voornemende voorgraadse ingenieurstudente verantwoordelik is. Ek vervul daardie rol tans vir die Dekaan se Afdeling. Dit behels dat ek skole in die verskillende provinsies besoek, loopbaanuitstallings bywoon en geteikende geleenthede in groot stede reël.

Ek werk nou saam met die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies (SSW) en ruil dikwels “beste praktyke" met kollegas van ander fakulteite uit. Ek is ʼn lid van ons Fakulteit se Bemarkingskomitee en werk nou saam met departemente aan strategieë om inskrywingsdoelwitte te behaal. Dit sluit in om na toppresteerders in wiskunde en natuurwetenskap by skole uit te reik.

Ons Fakulteit se nuwe inskrywingsplan het ten doel om meer vroue en studente uit diverse agtergronde te werf. Ek is ook betrokke by inisiatiewe om eerstejaars te ondersteun en te behou. My rol sluit in om verhoudings met belangegroepe soos plaaslike staatsdepartmente te bou. Voorts reik ek uit na ingenieursmaatskappye wat beurse en borgskappe aanbied

Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?

Ek is ʼn naguil – wat beteken ek werk saans meestal laat aan administratiewe take wat ek nie bedags kan voltooi nie, omdat ek die eerste kontakpunt is vir inloopkliënte wat werwingsadvies soek of omdat ek kollegas met die ondersteuning van huidige studente help. My dag op kantoor begin met e-posse, telefoonoproepe of die bywoning van vergaderings. Omdat aansoeke vir die volgende jaar se inname gedurende die eerste semester gegenereer word, bestee ek baie tyd aan die beplanning en organisasie van uitreikgeleenthede en om belangstelling wat in ingenieurstudies getoon is, op te volg. Daarna vat ek die pad om skole te besoek, uitstallings by te woon of met belangegroepe te vergader.

Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?

My jare as onderwyser en die netwerke wat ek oor baie jare opgebou het, het my vir hierdie rol voorberei. Ek was ook drie jaar lank die bestuurder van studentewerwing by die SSW. Noue samewerking met ander werwingsadviseurs het my gehelp om voornemende studente en onderwysers te verstaan en oor die onderskeie studie-opsies by Maties raad te gee. Ek het ook “produkkennis" bekom oor hoe om ingenieurswese deur interaksie met die Dekaan en departemente se senior personeel te “verkoop".

Ek geniet dit om boeke oor bemarking en leierskap te lees en woon werksessies of webinare by om te sorg dat ons op die hoogste standaard bly en met die jongste neigings in my veld tred te hou. Ek is voorts aktief op sosale media om by te bly en by ander te leer. Ek het oor die jare heen talle bestuurs- en besigheidsverwante kursusse by die US se Besigheidskool bygewoon.  

Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?

Ek geniet dit om met ʼn wêreldklas-instelling soos die US verbind te word en gebruik elke moontlike geleentheid om ander aan die handelsmerk bloot te stel. Ek het oor die afgelope twee dekades sterk verhoudings met kollegas uit verskillende omgewings opgebou. Ek geniet my interaksie met ons huidige studente van verskillende agtergronde en my kontak met studenteleiers. Die Fakulteit Ingenieurswese werk so glad soos ʼn geoliede masjien. Ek het toegang tot die Dekaan en senior personeellede, wat altyd gewillig is om hul kennis en kundigheid te deel om waarde tot my werk toe te voeg. Ek nooi departementele voorsitters en senior lektore gereeld om my na uitreikgeleenthede in ander stede te vergesel.

Vertel ons iets opwindends of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?

 Die meeste van my kollegas weet van my liefde vir olifante, katoeters en om te stap. Min is bewus van my stokperdjie om antieke meubels te versamel en te restoureer. 

Fotograaf: Srefan Els