
Musiekstuk oor aktivis Denis Goldberg op SIKMF te hoor
Die Suid-Afrikaanse anti-apartheidsaktivis en politieke ikoon Denis Goldberg sal by die 2016 Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) sy lewensverhaal vertel in 'n nuwe musiekstuk deur die Suid-Afrikaanse komponis Matthijs van Dijk.
Die SIKMF, wat van 1 tot 10 Julie 2016 gehou word, word jaarliks sedert 2004 deur die Universiteit Stellenbosch se Musiekdepartement aangebied. 'n Fakulteit van 30 internasionaal gerekende musici en sowat 300 meestal Suid-Afrikaanse musiekstudente neem deel aan die fees, waar meesterklasse, lesings asook kamermusiek- en simfoniekonserte aangebied word.
Elke jaar vra die SIKMF – 'n voorstander van die skep van nuwe Suid-Afrikaanse musiek – 'n plaaslike komponis om 'n kamermusiekwerk te skryf wat sy wêreldpremière op die fees het.
"Dit is 'n eer om 'n werk uit te voer wat bydra om ons land se unieke geskiedenis te vertel, veral 'n musiekstuk werk oor die lewe van 'n lewende Struggle-ikoon soos Denis Goldberg. Daarby is dit 'n voorreg om Denis op die verhoog te hê om die verteller van sy eie verhaal te wees," sê Peter Martens, Feesdirekteur.
Goldberg is in 1933 gebore en het in 'n huis grootgeword wat toegewy was aan teenstand teen apartheid. Hy was betrokke by die Kongres van die Mense en die ontwikkeling van die Vryheidsmanifes in 1954/55, en is vir vier maande aangehou tydens die noodtoestand in 1960 ná die Sharpeville-slagting.
Goldberg het by die ANC se militêre vleuel, uMkhonto we Sizwe, aangesluit toe dit in 1963 gestig is. Op 11 Julie 1963 is hy by die Liliesleaf-plaas in Rivonia, Johannesburg, in hegtenis geneem en saam met oudpresident Nelson Mandela en ander onder die Wet op Sabotasie aangekla van onder meer sameswering om die staat omver te werp. Hy is op 12 Junie 1964 vier keer tot lewenslange tronkstraf gevonnis, maar is op 28 Februarie 1985 vrygelaat nadat hy 22 jaar in die tronk was.
Ná sy vrylating het Goldberg in ballingskap in die Verenigde Koninkryk gewoon, en in 2002 na Suid-Afrika teruggekeer.
Van Dijk se werk, getiteld Moments in a Life, bestaan uit stories uit verskeie sleuteloomblikke in Goldberg se lewe. Die teks is ontleen van Goldberg se outobiografie, A life for freedom – The mission to end racism in South Africa, wat te koop sal wees by die konsert.
Oor sy musikale hantering van Goldberg se teks, sê Van Dijk: "Omdat die verhaal oor 'n tydperk van 1939 tot vandag strek, het ek gekies om eklektiese musiekstyle te gebruik, wat idees insluit van die filmiese tot die banale 1980s glam rock/hair metal, gekombineer met stukkies klubmusiek, wat die teatrale kunsmatigheid en perversiteit van die media-sirkus rondom die Rivonia-saak uitbeeld, asook 'vrye jazz' en minimalistiese idees vir die tronkmusiek om die gevoel van afsondering te weerspieël."
Goldberg, wat tans in Houtbaai woon, sien uit om as verteller in hierdie werk op te tree en het 'n groot belangstelling in musiek. Hy onthou die langspeelplate wat hulle in die tronk gehad het, waarvan talle klassieke werke soos Fauré se Requiem was. Hy het ook in die tronk leer kitaar en blokfluit speel.
Goldberg kan identifiseer met die SIKMF se werk omdat hy musiek sien as 'n aktiwiteit wat sosiale kohesie bewerkstellig. Hy ondersteun die Kronendal Musiek-akademie in Houtbaai, waarvan sommige lede ook tydens die SIKMF sal optree.
Tydens die fees sal die skrywer en joernalis Mark Gevisser 'n onderhoudsessie met Goldberg fasiliteer waarin oor sy lewe, biografie en liefde vir musiek gesels sal word. Die publiek kan die sessie bywoon op Woensdag 6 Julie om 18:30 in die Jannasch-saal van die Universiteit Stellenbosch Konservatorium.
Die konsert waarin Moments in a Life gespeel word, word ná die onderhoud om 20:00 in die Konservatorium se Endlersaal gehou.
- Kaartjies is by Computicket beskikbaar, of skakel ( 021 808 2358 om 'n feespas te koop. Besoek www.sicmf.co.za vir meer inligting.