
Mikrogroente: veel meer as net garnering
Dr Bianke Loedolff, ʼn nadoktorale navorsingsgenoot aan die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Plant Biotegnologie, het onlangs haar navorsing by die 22ste Internasionale Konferensie oor Funksionele Voedsel, wat by Harvard Universiteit gehou is, aangebied. Haar aanbieding het baie belangstelling by kongresbywoners uit sowel die mediese-navorsing- as kommersiële sfeer gewek. Hierdie belangstelling kan moontlik navorsingsamewering onder kollegas, wat in die Verenigde State en Duitsland gebaseer is, bevorder.
Dr Loedolff se navorsing behels ʼn nuwe benadering tot die ontwikkeling van voedselsoorte en voedselprodukte met verhoogde voedingswaarde, wat die potensiaal het om die aanvang van nie-oordraagbare siektes soos kanker te verhoed. Sy fokus hoofsaaklik op die biofortifikasie van slaaiblaar-mikrogroentestelsels (onvolwasse plante met twee tot vier ware blare) deur die gebruik van omgewingstres om die akkumulering van bioaktiewe verbindings verder te verhoog. Haar navorsing het die verhoogde opbou van bekende en onbekende bioaktiewe verbindings – sowel as ʼn verhoogde anti-oksidantkapasiteit – in wilde slaai-eruca ('rocket'), krulkool, mostertslaai en radyse suksesvol gedemonstreer.
Dr Loedolff werk ook aktief met prof Sharon Prince, Hoof van die Afdeling vir Selbiologie aan die Universiteit Kaapstad, saam om die doeltreffendheid van hierdie biogefortifiseerde produkte op borskankersellyne te toets. Sy hoop om ʼn kombinasie van mikrogroente met verhoogde voedingswaarde saam te stel, wat as deel van ʼn daaglikse dieet ingeneem kan word. Sy hoop sodoende om die verskriklike gevolge van wanvoeding, een van die voorste oorsake in die ontwikkeling van nie-oordraagbare siektes, aan te pak.