
MGD skep ʼn getransformeerde studente-ervaring vir Maties
Die jaar 2018 het baie opwinding vir die Universiteit Stellenbosch (US) en Maties Gemeenskapsdiens (MGD), wat in die Afdeling Sosiale Impak gehuisves word, ingehou. Personeel en studente het nie net Mandela se 100ste verjaardag gevier nie, maar ook die US se eeufeesjaar met etlike inisiatiewe wat groot impak gemaak het.
Die belangrikste hiervan het tydens Mandela-week plaasgevind, waartydens studente gewys het dat daar meer as ʼn ‘100 maniere’ is om ʼn impak te maak.
ʼn Kern-inisiatief van die viering van Mandela-week was die Toasties for Tummies-inisiatief, waarin ʼn tamaaie 10 000 toebroodjies vir verskeie organisasies om Stellenbosch gemaak is. Die Golden Key Stellenbosch-afdeling, in samewerking met MGD, bied die projek jaarliks aan.
Buiten die Toasties for Tummies-inisiatief het ʼn groot verskeidenheid gebeure met betrekking tot onderwys, die kunste, sport, gesondheidsbevordering, gesprekke, leeskompetisies en donasieveldtogte, onder andere, op die Stellenbosch- en Tygerberg-kampus plaasgevind.
Die aktiwiteite het op ʼn samewerkende gemeenskapsgeleentheid in die Kylemore-gebied uitgeloop, wat die WOW-debatfees, ʼn geleentheid vir gesondheidsbevordering, Maties Sportdag asook die Amazing Reading Race – ʼn pret program ontwerp om bewustheid te skep van die belang van lees met spoed en begrip – ingesluit het.
Hierdie is die soort programme wat MGD van stapel stuur om aan studente die geleentheid te bied om met gemeenskappe te skakel en betrokke te raak by volhoubare inisiatiewe wat langtermynvoordele vir die begunstigdes verseker.
MGD bestuur elke jaar een hoofprojek wat deur die jaar loop – hierdie jaar was dit ʼn opvoedkundige program wat elke Vrydag by Laerskool A.F. Louw, ʼn laerskool in Stellenbosch met beperkte hulpbronne, plaasvind. Hierbenewens word verskeie kleiner projekte deur die jaar gedoen, byvoorbeeld die A.F. Louw Sportdag, die gemeenskapsinteraksie-oggend, die Trip for Freedom en Mandela-week.
“Ons Studentevrywilligersprogram is op volhoubaarheid gemik en fokus op die bereiking van langtermynresultate in die lewens van alle begunstigdes deur leiding en opleiding aan studentevrywilligers te gee om hulle in staat te stel om uitstekende resultate in omliggende gemeenskappe te lewer,” sê mev Michelle Pietersen, senior programbestuurder by MGD.
Nog ʼn belangrike inisiatief wat deur MGD bestuur word, is die Primêre Gesondheidsorg-program. Hierdie program bied ʼn holistiese nauurse en primêre gesondheidsorgdiens aan sekere gemeenskappe van die Wes-Kaap wat beperkte toegang tot gesondheidsorg het. Die inisiatief dra ook by tot die professionele ontwikkeling van studente en verbeter hul kliniese vaardighede deur bykomende opleiding te gee. Die studente kry ook die geleentheid om tyd met pasiënte deur te bring en na hul stories te luister, wat positief tot die opleiding van voorgraadse gesondheidspersoneel bydra.
“Ons missie is om met gemeenskappe in hul spesifieke konteks te skakel deur die verskaffing van ons dienste en gesondheidsorgopvoeding ten einde hierdie gemeenskappe te bemagtig om hul eie ontwikkeling en welsyn te verbeter en te handhaaf, waardeur hoop vir ʼn volhoubare toekoms geskep word,” sê mev Avril Whate, senior projekbestuurder by Primêre Gesondheidsorg by Tygerberg.
In 2018 het MGD 780 vrywilligers bestuur, wat 400 ure oor 20 persele bygedra het.
Studente verwerf belangrike vaardighede, wat samewerking, kommunikasie, kontekstuele leierskap en spanleierskap insluit, wat hulle help om in afgeronde, toegewyde burgers met ʼn ondersoekende gees te ontwikkel.
Studente kan krediete vir hul werk vir sosiale impak verdien, wat as ʼn aansporing dien vir sowel toekomstige werk as die ontwikkeling van graduandi-eienskappe om kritiese denkleiers te word wat deernis het met mense wat minder bevoorreg is.
“Ons poog om met ons werk studente te inspireer om bewuste akteurs in die wêreld te word. Dit gaan oor die begin van ʼn nuwe denkbeweging, die aansporing van nuwe maniere om te reageer op waar ons as ʼn land en ʼn vasteland is en om ons voorstelling van wat Suid-Afrika kan wees van nuuts af aan te vuur”, sê me Reneé Hector-Kannemeyer, hoof van MGD en Adjunkdirekteur: Afdeling Sosiale Impak.