
Meeste US-studente steun voltooiing van akademiese jaar - opname
Die oorgrote meerderheid studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) is ten gunste daarvan om die akademiese jaar sonder sluiting te voltooi. 'n Meningsopname onder Stellenbosse studente toon dat 93,92% (8 7 88 studente) die Universiteit se inisiatiewe om met die akademiese program voort te gaan, ondersteun. Studente was gretig om insette te lewer op die impak van studenteprotes op die akademiese projek en die koste van die hoër onderwys.
"By die gespreksessie van vyf ure met studente op 17 September 2016, het ek en me Tonia Overmeyer, die US se Studentedekaan, ons verbintenis tot die suksesvolle voltooiing van die akademiese jaar vir alle studente verduidelik," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US gesê. " Die US bly terselfdertyd daartoe verbind om finansiële hulp vir arm studente te bied sodat hulle hul graadprogramme kan voltooi. Die Universiteit sal alle addisionele befondsingsopsies ontgin omdat ons nie uit eie hulpbronne gratis hoër onderwys vir al ons studente kan bekostig nie. Ons is ook van plan om die Nasionale Regering te probeer oortuig om die chroniese onderbefondsing van die hoëronderwyssektor reg te stel."
Die opname van studentemenings het getoon dat die oorweldigende meerderheid ten gunste is daarvan om met die akademiese program voort te gaan, en nie voorsien dat gratis hoër onderwys binnekort 'n werklikheid sal wees nie. Bykans twee derdes van studente het aangedui dat hulle voldoende inligting ontvang het oor die finansiële hulp wat deur die US, die National Student Financial Aid Scheme (NSFAS) en die Departement Hoër Onderwys en Opleiding gebied word.
Die opname het 'n besonder hoë responskoers van 29,4% opgelewer. Dit het uit vyf vrae bestaan:
- Die eerste vraag het studente se standpunt oor die onderbreking van die akademiese program verken. (Vraag 1: Die US-bestuur sal graag die akademiese jaar sonder sluiting wil voltooi. Ondersteun jy dit? Ja/nee?)
- Die tweede vraag het studente se indrukke oor die waarskynlikheid van gratis hoër onderwys binne die afsienbare toekoms ondersoek. (Vraag 2: Glo jy dat gratis hoër onderwys volgende jaar lewensvatbaar sal wees? Ja/nee?)
- Die oogmerk met die derde vraag was om te bepaal watter studente kennis dra van finansiële toegewings en steun. (Vraag 3: Is jy voldoende ingelig oor die volgende toegewings vir finansieel-behoeftige studente? Danksy beurse en lenings van die US en NSFAS betaal studente uit huishoudings met 'n gesamentlike inkomste van minder as R240 000 per jaar, geen studentegelde nie. Studente uit huishoudings met 'n inkomste van minder as R600 000 per jaar sal in 2017 geen verhogings in studentegelde betaal nie, vanweë addisionele befondsing van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding. Ja/nee?)
Die vierde en vyfde vraag was opsioneel. Respondente is gevra of hulle voorgraadse of nagraadse studente is, en in watter fakulteit hulle studeer.
UITSLAG VAN OPNAME | Vraag 1 | Vraag 2 | Vraag 3 |
Ja | 93,92% | 8,36% | 60,82% |
Nee | 6,08% | 91,64% | 39,18% |
Prof De Villiers het beklemtoon dat die uitslag van die opname egter nie die minderheidstem die swye sal oplê wat al die US se belangegroepe aan die belangrikheid van bekostigbare en toeganklike onderwys vir almal moet herinner nie. "Die US bly verbind tot instaatstellende toegang en bekostigbare gehalte-onderrig. Die huidige golf van ontwrigtende protesaksie op kampus, wat reeds gelei het tot die ontwrigting van akademiese aktiwiteite en aansienlike skade aan fasiliteite, asook individue fisieke en emosionele skade berokken het, is onaanvaarbaar en het 'n negatiewe impak op hoëronderwys-geleenthede vir alle studente, ook vir betogers én vir diegene vir wie hulle skynbaar in die bresse tree, het hy gesê.
Kliek hier vir die verslag van die opname.