
Meer as 1000 onderwysers en leerders woon dié vakansie SUNSEP-onderrigsessies by
Die Sentrum vir Pedagogie (SUNSEP) in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) bied gedurende die komende skoolvakansie 19 verskillende onderwyseropleidingsessies en intervensies vir leerders aan.
Meer as 800 leerders in die Suid-, Noord- en Wes-Kaap sal aanvullende onderrigprogramme in Wiskunde en Wetenskappe bywoon.
Die doel van HOPE@Maties-program is om toppresteerders in Graad 12s te help om hul prestasie in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde te handhaaf of selfs te verbeter om sodoende te kwalifiseer vir toegang tot hoofstroom hoër onderwysprogramme in 2017. Hulle sal ook ingelig word oor verskillende studiegeleenthede aan die US.
Die HOPE@Maties sessies word in Genadendal, Oudtshoorn, Mitchell's Plain, by South Peninsula High School in die suidelike voorstede van Kaapstad en in Kimberley in die Noord-Kaap aangebied.
Agt leerders wat in 2015 deel was van die HOPE@Maties-projek, was op die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se mees onlangse merietelys en vyf van dié op die top 20 lys van die Noord-Kaapse Onderwysdepartement.
SUNSEP bied ook geleenthede vir jonger leerders om hul uitslae in Wiskunde en Wetenskappe te verbeter. Hierdie leerders woon vakansieskole in Malmesbury, Villiersdorp, Worcester, Franschhoek, Atlantis, Springbok en Mitchellsplein by.
Een van hierdie geleenthede sluit in 'n nuwe inisiatief in wat geletterdheid- en gesyferdheidsvaardighede van laerskoolleerders in 'n aantal van plaasskole in die Breëriviervallei naby Worcester wil verbeter.
Die verskillende Onderwysdepartemente het onderwysers geïdentifiseer wat saam met van SUNSEP se personeellede verantwoordelik vir die onderrig.
Leerders wat van elders kom, bly gedurende die week in skoolkoshuise.
"Vir 'n paar onderwysers sal die rus van korte duur wees omdat hulle bereid is om 'n deel van hul skoolvakansies op te offer om beter onderwysers te wees. Ons eer hulle daarvoor", sê dr Trevor van Louw, direkteur van SUNSEP.
SUNSEP verwag ongeveer 150 onderwysers om US geakkrediteerde Wiskunde-kortkursus by drie verskillende plekke by te woon. Die onderwysers in Springbok en Kuilsrivier het reeds hul Windows-tablette vroeër vanjaar ontvang. Hulle woon nou 'n opvolgsessie by.
Die onderwysers in Vredendal sal nou hul tablette ontvang. Daarop is die interaktiewe materiaal wat SUNSEP ontwikkel het, reeds gelaai. Tydens die kontak onderrigsessies sal hulle ook verder bemagtig word oor die effektiewe gebruik van tegnologie en e-leer.
In Kuilsrivier woon 'n groep van sowat 50 skoolbestuurslede van die Stellenbosch-omgewing 'n kortkursus in Leierskap en bestuur by.