Skip to main content
Maties Waterpolo-klub gaan van krag tot krag

Maties Waterpolo-klub gaan van krag tot krag

Pia Nänny
12 April 2016

​Die Maties Waterpolo-klub beleef ’n bloeitydperk ná hulle die WP Waterpolo-liga gewen het en vyf van hul lede ingesluit is by Suid-Afrika se waterpolospan wat onlangs in Trieste, Italië, aan die kwalifiseringstoernooi vir die Olimpiese Spele deelgeneem het.

Maties Lood Rabie, Jason Evezard, Nick Downes, Lwazi Madi en Jordan Rumbelow het vandeesweek na Suid-Afrika teruggekeer.

Die toernooi het van 3-10 April plaasgevind. Vier spanne het by hierdie toernooi gekwalifiseer om aan die Olimpiese Spele in Rio deel te neem: Hongarye, Italië, Frankryk en Spanje.

Volgens Rabie het hulle dit nie maklik gehad nie.

"Dit is moeilik om teen professionele atlete mee te ding. Suid-Afrika het sterk spelers, maar ons het eers 'n dag voor die kompetisie bymekaargekom en ons moes teen spanne speel wat vir meer as 'n jaar al saamoefen."

Suid-Afrika het miskien nou nie vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer nie, maar Maties se waterpoloklub gaan van krag tot krag.

Volgens Lourens van die Walt, klubvoorsitter en spanlid, het die klub in die afgelope drie maande 'n paar uitstekende prestasies behaal.

"As jy na ons uitslae kyk, kan Maties as die beste klub in die provinsie beskou word," het hy gesê.

"Die mans se eerstespan het Intervarsity vir die tweede agtereenvolgende jaar gewen, en het ook die WP-liga gewen."

Naas die vyf mans wat Suid-Afrika in Italië verteenwoordig het, het nog 'n klublid, Alex van der Walt, Suid-Afrika by die vroue se Olimpiese kwalifiseringstoernooi wat in Maart in Nederland gehou is, verteenwoordig.

"Die klub se sukses het daartoe gelei dat 'n aantal eerstejaars die Universiteit Stellenbosch om waterpolo-redes gekies het. SA spelers soos Jordan en Jason is albei maar nog net 19 jaar oud."

Dit is egter nie net die studente wat goed presteer nie. In Maart het die Maties se 'Old Boys'-span die SA Meesterstoernooi gewen. Duncan Woods is as die aanvallende speler van die toernooi aangewys, Mike Bond was die verdediger van die toernooi en Marvin Killian die doelwagter van die toernooi. Die span sluit sewe nasionale spelers in.

"Die Maties Waterpolo-klub het ontwikkel tot 'n uitstekende klub en wil graag nog baie trofeë wen – trofeë wat nou 'n werklikheid word en nie meer net 'n droom is nie," het Van der Walt gesê.