Skip to main content
Maties verteenwoordig SA op netbalbaan

Maties verteenwoordig SA op netbalbaan

Pia Nänny
14 Junie 2016

Vier spelers van die Maties-netbalklub is in die Suid-Afrikaanse o.21-span opgeneem om komende naweek in 'n toetsreeks teen Wallis te speel.

Die o.21-spanne se wedstryde sal as voorskou dien vir die Proteas se wedstryde teen Wallis op 17, 18 en 19 Junie.

Charmaine Baard, Jo Prins, Stephanie Brandt en Sasha-Lee Petersen is vir hierdie span gekies.

Hierdie spelers was ook almal deel van die Southern Stings-span wat aan die Brutal Fruit-netballiga deelgeneem het. Die span het derde geëindig en Maties-netbalspelers is verskeie kere as die speler van die wedstryd aangewys. Altesame 12 Maties is in die Southern Stings-oefengroep opgeneem.

Baard, wat aanvanklik deel was van die oefengroep vir die Proteas, het gesê dit was 'n groot eer om vir dié groep gekies te word.

"Ek voel so geseënd dat ek die kans gekry het om saam met die beste spelers in die land te oefen," het sy gesê.

Hoewel sy nie in die finale span opgeneem is nie, voel sy nogtans dit was 'n goeie leerskool.

Te danke aan haar betrokkenheid by Maties, die Kaapse Wynlande-span, die Southern Stings, die nasionale senior oefengroep en die nasionale o.21-groep, was daar baie geleentheid om te groei en te ontwikkel as 'n speler.

'n Groot groep Maties is in verskeie Kaapse Wynlande-spanne opgeneem.

Net meer as twee weke ná die toetsreeks teen Wallis, sal Maties se nasionale o.21-spelers saam met hul Maties Netbal-spanmaats aan die USSA-toernooi, wat van 4-8 Julie by die Universiteit van Kaapstad aangebied word, deelneem.

Een van die senior spelers in die span, Juline Rossouw, sal hierdie toernooi misloop aangesien sy opgeneem is in die Suid-Afrikaanse studentespan om in Julie aan die Wêrelduniversiteite-netbaltoernooi in Miami deel te neem.

Rossouw,'n onderwysstudent in haar finale jaar, is baie opgewonde oor en dankbaar vir hierdie geleentheid.

Maties Netbal se konstante verbetering oor die afgelope paar jaar is onder meer toegeskryf aan verbeterde fiksheidsvlakke, uitstekende afrigting en ondersteuning, en die ervaring wat die senior spelers in die span bied.

Die afrigter, Christine Behan, word bygestaan deur dr Sherylle Calder van EyeGym wat sedert 2014 by Maties Netbal betrokke is. Die netbalklub word ook vanjaar deur EyeGym geborg. Die voormalige Protea-afrigter Elize Kotzé het in 2016 by die afrigtingspan aangesluit.

"Maties Netbal het in 2016 reeds sterk verteenwoordiging in streeks-, provinsiale en nasionale spanne gehad, en ons sien uit na die universiteitekompetisies wat voorlê," het Karen Swart, sportbestuurder van Maties Netbal gesê.

Die Varsity Netbal-toernooi begin op 5 September.