Skip to main content
Maties Sport lewer goeie USSA-vertonings

Maties Sport lewer goeie USSA-vertonings

Maties Sport Media
12 Julie 2018

Maties Sport-spanne het drie USSA-titels en verskeie medaljes by verlede week se USSA-kampioenskapsbyeenkomste reg oor die land verower.

Die Maties Rugby-, Fietsry- en Pluimbal-spanne het titels gewen, terwyl Maties Hokkie, Nebal en Gimnastiek medaljes teruggebring het na Stellenbosch.

Maties Rugby het die USSA-toernooi vir 'n tweede agtereenvolgende jaar gewen. Die Maroen Masjien het Tuks oorrompel in die eindstryd en met 52-10 gewen. Jongeling Ben-Jason Dixon is as Speler van die Toernooi aangewys en Joa Swart is beloon as die beste Voorspeler van die Toernooi. 

Dit was Maties Fietsry se vierde USSA titel in soveel jaar. Gert Heyns is as die algehele wenner aangewys en die manspan het met die titel weggestap. Die vrouespan het tweede geëindig.

Albei Maties Hokkie-spanne het die eindstryd gehaal. Maties se vrouespan het teen die verdedigende kampioene, Tuks, verloor terwyl die manspan in 'n doele-uitspeelstryd teen die Universiteit van Kaapstad verloor het.

Maties Netbal het die brons medalje gewen na 'n oortuigende sege van 54-35 oor Pukke. Vroeër die week het Maties oorwinnings oor Kovsies, UJ en NMU behaal.

​Dit was ook 'n groot week vir Maties Sokker se spanne. Albei spanne het vir seges in Afdeling B en promosie na Afdeling A gesoek. Die vrouespan het brons gewen en sal nou volgende jaar in die A-afdeling speel, maar die mans het ongelukkig in die uitspeelwedstryd om derde plek die strafdoelstryd verloor en vierde geëindig.

Maties Rugby: 1steMaties Pluimbal: 1steMaties Fietsry: 1ste

Maties Gimnastiek: 2de; wenners van die Danskompetisie

Maties Hokkie Vroue: 2deMaties Hokkie Mans: 2de

Maties Netbal: 3de

Maties Sokker Vroue: 3deMaties Sokker Mans: 4de

Maties Muurbal: 4de (A); 2de (B)

Maties Tennis: 4de

Maties Basketbal Vroue: 5deMaties Basketbal Mans: 11de