
Maties se Van Rhyn gekies om Junior Springbokke te lei
Die Steinhoff Maties-rugbyspeler Ernst van Rhyn is aangewys as kaptein van die Suid-Afrikaanse o.20-span wat in Junie aan die o.20-Wêreldbekerkampioenskap in Tbilisi, Georgië, sal deelneem.
Van Rhyn is saam met mede-Matie Wikus Groenewald by die groep van 28 ingesluit. Die span sal afgerig word deur die voormalige Maties- en huidige Junior Springbok-afrigter, Chean Roux.
Van Rhyn was verlede jaar 'n onderkaptein vir die Junior Springbokke en was in 2015 die SA Skole-kaptein "In hierdie rugby-mal land van ons, glo ek dat baie seuns grootword met die droom om vir hul land te speel. Om hierdie geleentheid te kry, is dus 'n wonderlike voorreg en ons sal alles gee om ons land trots te maak," het Van Rhyn gesê.
Oor sy kaptein het Roux gesê: "Ernst is 'n harde werker op die veld en het homself die afgelope paar seisoene op verskillende vlakke as leier bewys . 'n Kaptein moet met sy voorbeeld lei en seker maak dat daar ten alle tye samehorigheid in die span is, en hierdie eienskappe sal noodsaaklik wees om ons deur die kompetisie te lei. "
Die Junior Springbokke speel teen Frankryk, Georgië en Argentinië in die groepfase van die toernooi wat van 31 Mei tot 18 Junie aangebied sal word.