Skip to main content
Maties se Laka is nuwe sekretaris-generaal van KUKSA

Maties se Laka is nuwe sekretaris-generaal van KUKSA

Maties Sport Media
08 April 2019

​Hy wil graag 'n rol speel in die ontwikkeling van sport by universiteite en kolleges in Suid-Afrika, Afrika en die wêreld.

Dit is hoekom mnr. Jerry Laka, Direkteur: Steundienste van Maties Sport by die Universiteit Stellenbosch nie gehuiwer het om sy gewilligheid aan te dui om op die 2019-2022 uitvoerende komitee van die Konfederasie van Universiteit- en Kollegesportassosiasies (KUKSA) te dien nie.

Met 24 jaar se ervaring in sportbestuur is hy as sekretaris-generaal van KUKSA verkies.

KUKSA bestaan uit die sportverenigings van universiteite en kolleges in lande in Afrika-sone VI. Hierdie lande is Angola, Botswana, Lesotho, Malawi, Mosambiek, Namibië, Suid-Afrika, Swaziland, Zambië en Zimbabwe.

KUKSA se hoofdoelwit is om sport by universiteite en kolleges in die streek te koördineer en te ontwikkel en die KUKSA Spele, wat elke twee jaar plaasvind, te reël.

As sekretaris-generaal moet mnr. Laka verseker dat KUKSA op alle vlakke doeltreffend funksioneer en met sy lede kommunikeer.

“Dit is nou tyd om 'n impak te maak deur kennis en kundigheid na die tafel toe te bring. Ek word blootgestel aan 'n verskeidenheid programme, kennis, bestuurstyle en diversiteit by die Universiteit Stellenbosch, wat my in my nuwe posisie sal help," sê Laka.

“Ons moet alle lande betrokke kry om universiteit- en kollegesport te ontwikkel en ons moet bystand aanbied as daar uitdagings is. Ons doelwit is om 'n impak op die streek te maak deur sport. Ons verantwoordelikheid is om saam te werk wanneer daar geleenthede is, en gewillig te wees om van mekaar te leer. Ons primêre doelwit moet wees om die rol wat sport by universiteite en kolleges kan speel, in elkeen van die KUKSA-lidlande te beklemtoon.

“Ek is baie opgewonde en sien uit daarna om 'n bydrae te lewer en deel te word van die groter prentjie van universiteit- en kollegesport. Ons moet onsself vereenselwig met die visie en missie van die land, vir sport op alle vlakke."