Skip to main content
Maties se Frankie du Toit op pad na Australië vir bergfiets-wêreldkampioenskap

Maties se Frankie du Toit op pad na Australië vir bergfiets-wêreldkampioenskap

Maties Sport Media
31 Augustus 2017

​​Maties Fietsry se Frankie du Toit, wat onlangs as die SA o.23-veldrenkampioen gekroon is, vertrek op haar 20ste verjaardag – 2 September – na Australië om aan die UCI MTB Wêreldkampioenskap in Cairns deel te neem.

Dié reis het 'n werklikheid geword nadat sy al die nodige geld kon insamel om haar land internasionaal te verteenwoordig. 

“Ek was oorweldig deur die ondersteuning. Ek het nie só 'n reaksie verwag nie," vertel sy.

“Ek is so opgewonde oor hierdie toer. Dit is altyd 'n eer om jou land te verteenwoordig. Ek hoop om in die top20 te eindig, maar ek sal sien hoe dit gaan."

Hierdie eerstejaarstudent in BA Sportwetenskap van Wartburg, 'n klein landboudorpie buitekant Pietermaritzburg, het ernstig begin fietsry toe sy 15 was.

“Ek het by fietsry betrokke geraak want albei my ouers ry, en ek en my suster sou saam met hulle na plaaslike fietsrenne gaan. Ek was baie kompeterend en het daarom altyd so hard soos wat ek kon, gery. My suster was nie so kompeterend nie, maar nou is sy 'n lid van Maties Roei se A-span. Fietsry was dalk net nie haar sport nie."

Frankie het in 2015 SA titels in al die groot fietsrydissiplines behaal: Veldfietsren, Marathon, Tydtoets en Pad. Veldren (XCO) bly egter haar gunsteling.

Sy geniet dit om 'n lid van die Maties Fietsryklub te wees en het 'n groot indruk by die onlangse Universiteitsport Suid-Afrika- (USSA) kompetisie gemaak waar sy die vrouekategorie gewen het.

Frankie is nie net 'n Hoëprestasie- (HP)- studente-atleet nie, maar ook 'n IMAS-beurshouer (IMAS is die Engelse akroniem vir Integrated Medicine and Science).

Die beurs word toegeken aan atlete wat uitsonderlike prestasie in hul sport behaal, en help die atleet om sy/haar prestasie te verbeter deur geïntegreerde intervensies op die gebiede van sportgesondheid, prestasieverbetering en bemagtiging.

“Die IMAS-beurs is fantasties. Dit gee my toegang tot dienste wat my help om my beste te kan lewer. Dit is die ekstra hupstoot wat ek nodig het."

Sy oefen 12 tot 16 uur per week en bly by met haar akademie deur baie aandag te gee gedurende al haar lesings.

“Ek probeer ook om by te bly met my studies terwyl ek weg is," voeg sy by.

Haar rolmodelle is twee vroue-fietsryers: Jenny Rissveds van Swede en Annika Langvad van Denemarke.

“Hulle is albei fantastiese atlete wat baie kalm kan bly tydens wedrenne en fokus op dit wat hulle moet doen. Albei is sulke veelsydige ryers."

Fotokrediet: JB Badenhorst