Skip to main content
Maties op pad na Rio

Maties op pad na Rio

Maties Sport
14 Julie 2016

​’n Student en atleet van die Universiteit Stellenbosch, Justine Palframan, is ingesluit by die Suid-Afrikaanse Olimpiese span vir Rio2016.

Justine, wat goud gewen het in die 400m by die Wêreldstudentespele in 2015 en meer onlangs by die Afrika Senior Atletiekkampioenskap as deel van die 4x400m-aflos, is deel van die groep van 137 deelnemers wat op 14 Julie aangekondig is.

"Ek is opgewonde, ek is verlig, ek is só gelukkig," het sy na die aankondiging gesê. "Ek kan nie glo dat dit besig is om te gebeur nie!"

As deel van haar voorbereiding, het sy ’n week in Junie deurgebring by die Racers-klub in Jamaika, die tuiste van die bekende naelloper Usain Bolt.

Sy moes bewys dat sy fiks en gereed is om deel te neem nadat sy vroeër vanjaar met 'n besering gesukkel het. Hierdie besering het haar verhoed om haar nasionale titels in die 200m en 400m te verdedig by vanjaar se SA nasionale baan- en veldkampioenskap in April.

US-alumna en Stellenbosch-inwoner Mari Rabie sal Suid-Afrika in die driekamp verteenwoordig terwyl die Matie-fietsryer Vera Adrian by die Namibiese span ingesluit is.