Skip to main content
Maties-krieketspeler ontvang sy graad met lof

Maties-krieketspeler ontvang sy graad met lof

Pia Nänny
09 Desember 2016

Om Maties op die krieketveld te verteenwoordig, het nie vir Ryelan Hardnick daarvan weerhou om in sy studies ook uit te blink nie. Om die waarheid te sê, hy glo sy deelname aan sport het tot sy akademiese sukses bygedra.

Ryelan, wat sy BRekeningkunde-graad hierdie week cum laude verwerf het, speel van kleins af krieket.

Hierdie voormalige leerder van Queen's Kollege in Queenstown is baie lief vir die sport en wil aanhou speel, al gaan hy volgende jaar vir sy honneursgraad in rekeningkunde studeer.

"Toe ek Universiteit Stellenbosch toe gekom het, het ek daarvan gedroom om my krieketloopbaan na die volgende vlak te neem, maar noudat ek so ver met my studies gekom het en veral met my honneursstudies volgende jaar, dink ek nie ek sal nog so kompeterend kan speel nie. En as ek teen hierdie tyd nog nie na die volgende vlak gevorder het nie, voel ek dit is dalk 'n bietjie te laat."

Hoewel hy erken dat mens nooit weet wat kan gebeur nie, besef hy ook dat om te werk om 'n geoktrooieerde rekenmeester te word baie tyd en inspanning gaan verg.

"Ek sal egter nog steeds vir Maties op die krieketveld wil verteenwoordig en dalk aan 'n universiteitkompetisie deelneem. Ek sal my sport en studies so lank moontlik balanseer."

Deelname aan sport het hom dissipline en die waarde daarvan om sy tyd so doeltreffend moontlik te gebruik, geleer. Dit bied ook 'n welkome breuk van sy studies en die geleentheid om verfris na sy boeke terug te keer.

Ryelan glo studente moenie die moontlikheid ignoreer om met die sport wat hulle op skool gespeel het, voort te gaan nie.

"Ek ken 'n hele paar mense wat vooraf besluit het daar sal nie genoeg tyd wees om te studeer en sport te speel nie. Ek het van my eerste jaar vir Maties gespeel en kon steeds akademies goed vaar."

Ryelan het nie net met onderskeiding gegradueer nie, maar ook vroeër vanjaar twee toekennings ontvang: die Phumzile Njomose Gedenkprys wat deur KPMG toegeken word en die prys vir die beste tweedejaar-BRek-student in Ouditkunde (gegrond op sy 2015-punte) wat deur PWC toegeken word.

"Dit is moontlik om jou studies en sport te balanseer, maar dit gaan met sekere besluite en opofferings gepaard. Dit gaan nie net gebeur nie – jy moet beplan."

Grant van Velden, wat by Maties Krieket se hoëprestasie-program betrokke is, bewonder Ryelan vir sy goeie akademiese prestasie, dit alles terwyl hy baie betrokke is by 'n besige krieket-HP-program.

"Ryelan verpersoonlik die soort student-atleet wat ons by Maties Krieketklub wil help ontwikkel," sê Van Velden.