
Madonsela spreek studente toe by die FVZS-diskoerskafee
“Ons het onverskrokke leierskap nodig in Suid-Afrika. Leiers wat hoop skep en op die doelstellings van die Grondwet let." Prof Thuli Madonsela het hierdie kwessie Maandagaand, 26 Februarie, tydens die eerste Frederik van Zyl Slabbert (FVZS)-diskoers by die Universiteit Stellenbosch (US) benadruk.
Die FVZS-diskoerskafee het die jaar op 'n hoë noot ingelui toe Suid-Afrika se voormalige Openbare Beskermer vir die eerste keer US-studente en ander belanghebbendes toegepreek het sedert sy op 10 Januarie in die Leerstoel in Maatskaplike Geregtigheid aan die Fakulteit Regsdienste aangestel is.
Tydens die diskoers het prof Madonsela gefokus op leierskap wat deur die Suid-Afrikaanse Grondwet gerig word, en oor haar werk as Openbare Beskermer besin. Sy het studente aangemoedig om hulself te verbeter en 'n loopbaan te kies waaroor hulle passievol is. “Ek sê altyd vir mense dat jy in die laaste instansie dít moet kies waarvan jy regtig hou. Ek is passievol oor geregtigheid en regverdigheid. Ek soek altyd na geleenthede vir hoop en na dinge wat ek hoop ek sal kan doen," sê sy.
Prof Madonsela het in haar toespraak 'n beroep gedoen op die leiers van die land en van die US, wat vanjaar sy eeufeesjaar vier, om die verdeeldhede van die verlede te herstel. “As ons maatskaplike kohesie wil bewerkstellig, as ons wil hê Suid-Afrika moet werk, moet ons die verdeeldhede van die verlede uit die weg ruim. Leiers moet bewus wees van maatskaplike geregtigheid soos dit in die Grondwet vervat word. Terwyl daar nog êrens ongeregtigheid is, kan daar nêrens volhoubare vrede wees nie."
Tydens prof Madonsela se termyn as Openbare Beskermer het die media, die regering en die publiek haar soos valke dopgehou. In haar toespraak het sy verder besin oor die kere toe haar lewe bedreig is en sy behoorlik moes koers hou om te sorg dat haar organisasie en personeel op die afhandeling van hulle werk kon bly fokus.
“As 'n leier moet jy tot dienslewering en die hoogste vlak van etiese gedrag verbind bly. Een van die dinge wat Suid-Afrika vooruit sal laat beweeg, is as ons leiers deur dienslewering gemotiveer word. Leiers moet doelgedrewe en van die gevolge bewus wees. Suid-Afrika is as 't ware op 'n voetstuk van hoop geplaas en dit is nou elke leier se verantwoordelik om daardie hoop lewend te hou," sê prof Madonsela.
FVZS-diskoerskafee
Die FVZS-diskoerskafee is 'n inisiatief van die FVZS-instituut wat amptelik in Maart 2011 van stapel gestuur is. Die oogmerk met die Instituut is om verskeie platforms te skep waar studente en jongmense hulle leer- en leierskapvaardighede kan verbreed. Die FVZS-diskoerskafee-inisiatief word ook deur die Konrad Adenauer Stiftung ondersteun.
Deur die FVZS-diskoerskafee word denkleiers soos prof Madonsela – wat verskeie velde en agtergronde verteenwoordig – genooi om 'n greep van hulle persoonlike lewensreis te deel en met 'n kleiner groep studente en ander belanghebbendes in 'n informele en bemagtigende omgewing in gesprek te tree.
Foto: deur Rozanne Engel