Skip to main content
Maatskappye, private individue moet menseregte-verpligtinge nakom – Regter Mbuyiseli Madlanga

Maatskappye, private individue moet menseregte-verpligtinge nakom – Regter Mbuyiseli Madlanga

Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
31 Augustus 2018

Maatskappye en private individue moet ook hul menseregte-verpligtinge nakom indien ons 'n sosio-ekonomiese stelsel wil skep wat alle Suid-Afrikaners bevoordeel.

Só het Regter Mbuyiseli Madlanga van die Konstitusionele Hof op Donderdag (30 Augustus 2018) gesê. Hy het die 15de jaarlikse Menseregte-lesing van die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die Universiteit Stellenbosch gelewer. Hy het gepraat oor “The Human Rights​​ Duties of Companies and other Private Actors in South Africa​". Die geleentheid is deur die HF Oppenheimer Leerstoel vir Menseregte aangebied en het deel gevorm van die Fakulteit se vieringe van die US en Nelson Mandela se Eeufees.

Madlanga het in sy toespraak gesê ons moet nie die fout maak om te dink dat net die staat menseregte kan skend nie.

“Menseregteskendings kan uit baie verskillende oorde kom; nie net die staat nie."

“Sommige maatskappye, veral multinasionale korporasies, is so magtig dat dit dwaas sal wees om net te fokus op die tradisionele teiken vir uitdagings rondom menseregteskendings – die staat."

Madlanga_group (1).jpg

Maatskappye skend menseregte in die wyses waarop hul bedrywighede mense se lewens beïnvloed, het Madlanga bygevoeg.

Hy het genoem dat tradisionele of konvensionele denke dit altyd wou hê dat aangesien menseregte “ontwerp was om vergryppe van publieke mag te bekamp, eerder as om 'private' kommersiële of interpersoonlike verhoudings te reguleer", hulle nie geskik is om op ander rolspelers as die staat toegepas te word nie.

Madlanga het gesê hoewel die staat ongetwyfeld verplig om sy menseregte-verpligtinge na te kom, moet private persone ook verplig word waar fundamentele regte op hulle van toepassing is.

In die verband het hy verwys na Artikel 8 (2) van die Grondwet wat uitdruklik menseregte-verpligtinge aan private persone oplê.

“As ons weier om menseregte-verpligtinge aan private individue op te lê uit vrees dat ons hul outonomie aan bande kan lê, loop ons die gevaar om 'n perverse status quo te handhaaf wat 'n sosiale en ekonomiese stelsel waar diegene wat reeds baie het steed bevoorreg word in stand hou."

“Deur sekere menseregte-verpligtinge aan private individue en maatskappye op te lê, erken ons dat ons huidige sosiale en ekonomiese realiteite ontstaan het uit ons slegte verlede en dat dit nie goed gepraat kan word nie."

Madlanga het gesê terwyl daar nog debatte in die internasionale reg gevoer word oor of private partye – veral multinasionale korporasies – menseregte-verpligtinge moet hê, het Suid-Afrika reeds vordering in die verband gemaak het.

  • Hooffoto: Regter Mbuyiseli Madlanga lewer die Menseregte-lesing.
  • Foto 1: Regter Mbuyiseli Madlanga saam met Prof Sandy Liebenberg (links) van die US se Fakulteit Regsgeleerdheid en Prof Nicola Smit, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, by die geleentheid.
  • Fotograaf: Hennie Rudman