Skip to main content
Maatskappy skenk skootrekenaars aan Huis ten Bosch-inwoners

Maatskappy skenk skootrekenaars aan Huis ten Bosch-inwoners

Daniel Bugan
23 September 2019

Splinternuwe skootrekenaars is onlangs deur 'n versekeringsmakelaar en risikobestuursfirma, Marsh, aan Huis ten Bosch-inwoners geskenk wat hul besittings verloor het in die brand wat in Augustus by die Universiteit Stellenbosch (US) vrouekoshuis uitgebreek het.

Die amptelike oorhandiging van 15 skootrekenaars het op 18 September by Marsh se kantore op Stellenbosch plaasgevind. Die Huis ten Bosch-inwoners wat die oorhandiging bygewoon het, sluit in Ntando Chamane, Yusrah Davids, Nicolle Janse van Rensburg, Abby Koeries, Nikita Köhler en Ella van Rensburg.

Die dak bokant agt kamers op die derde vloer van die koshuis is heeltemal in die brand vernietig wat op 12 Augustus 2019 omstreeks 19:00 uitgebreek het. Al 164 inwoners van Huis ten Bosch is veilig ontruim en is sedertdien van alternatiewe akkommodasie voorsien. Niemand is ernstig beseer nie - een student is vir brandwonde aan haar hande in die Stellenbosch-hospitaal behandel, en ʼn ander student vir rookinaseming.

Willem du Toit, takbestuurder en uitvoerende leier: Korporatiewe Besigheid, Marsh Wes-Kaap, het gesê hul onderneming is al meer as 50 jaar in Stellenbosch werksaam en vorm 'n integrale deel van hierdie gemeenskap.

“Ons beskou dit as 'n voorreg om te help waar ons kan, en ons voel geëerd om in 'n posisie te wees om 'n klein mate van ondersteuning te bied deur skootrekenaars te skenk aan studente wat dit nodig het. Dit is vir ons 'n plesier om hierdie skootrekenaars aan die dames van Huis ten Bosch te oorhandig, " het hy gesê.

''Ons is baie dankbaar dat almal veilig ontruim is. Versekering kan sorg vir die verlies aan materiële besittings, maar die lewe is onskatbaar en ons koester die veiligheid van al ons kliënte," het Du Toit bygevoeg.

Prof Stan Plessis, die US se bedryfshoof, het Marsh geloof vir die begrip wat hulle toon vir die behoeftes van die mense met wie hulle sake doen. “Ons is jare lank sakevennote van Marsh en hulle het dadelik die belangrikheid begryp om ons studente te help om weer op hul voete te kom ná die brand. Dit was geheel en al hul inisiatief om hierdie skootrekenaars aan ons studente te skenk en daarvoor is die universiteit baie dankbaar, " het hy gesê.

Sedert die brand, het die US-bestuur, personeel, studente, lede van die gemeenskap en alumni geweldige steun teenoor al 164 inwoners van Huis ten Bosch getoon. Daar is selfs 'n bedrag van meer as R49 000 op die skarebefondsing GivenGain-platform ingesamel.

​Davids het Marsh namens die Huis ten Bosch-inwoners vir die skootrekenaars bedank. “Na die brand was ons wêrelde omgekeer en ons het nie regtig geweet wat om te doen nie. Dit is die vrygewigheid van mense binne en buite die universiteit, soos Marsh, wat ons deurgedra het. So baie dankie," het sy gesê.

Die proses om Huis ten Bosch te herbou is vroeër vandeesmaand begin en sal heel waarskynlik vroeg in 2020 voltooi word. 

  • Foto-onderskrif: Prof Stan du Plessis en Willem du Toit is hier met Kutlwano Malatjie, Abigail Koeries, Nikita Köhler (Prim 2019), Yusrah Davids, Ella van Rensburg (Prim 2020) Karen Swart (Inwonende Hoof), Nicolle Janse van Rensburg en Ntando Chamane. (Fotograaf: Henk Oets)​