Skip to main content
“Lewende laboratorium" beoog om US in slimkampus te omskep

“Lewende laboratorium" beoog om US in slimkampus te omskep

Petro Mostert
11 Februarie 2022

​Deur die Afdeling Fasiliteitsbestuur as 'n lewende laboratorium te gebruik word toekomsgerigte stelsels en prosesse al sedert 2015 in werking gestel om die Universiteit Stellenbosch (US) in 'n slimkampus te omskep.

Volgens Nicolette van den Eijkel, hoofdirekteur van Fasiliteitsbestuur, is een van hulle strategiese doelwitte tot en met 2025 om deur 'n proses van digitalisering na 'n tegnologiegesteunde kampus te beweeg. Dít sal uiteindelik datagegronde besluitneming moontlik maak om probleme te help oplos en oplossings vir die toekoms te voorsien.

Die vernaamste dryfveer van dié inisiatief is die US se verbintenis om nettonulkoolstofstatus te bereik – waar die Universiteit ewe veel koolstof uit die atmosfeer verwyder as wat dit daarin vrystel. Die US se Omgewingsvolhoubaarheidsplan beoog om algehele verbruik van fossielbrandstowwe teen 2025 met 50% te verminder, en energieverkryging uit skoon, hernubare bronne tot 20% te verhoog, vergeleke met 2019 as basislyn. Dít vereis intervensies op die gebied van hernubare energie, energiedoeltreffendheid én energiebesparing.

Slimmeters en prestasiesertifikaat

“Ons kan net ons nutsdienste bestuur as ons dit behoorlik meet," sê Nadeem Gafieldien, direkteur van Eiendomsdienste by Fasiliteitsbestuur. “Dít is waarom ons hard aan die werk is om digitale stelsels en infrastruktuur te voorsien om ons nutsdienste soos water en elektrisiteit te meet. Ons slimmeterstelsels bied ons waardevolle verbruiksdata, op grond waarvan ons doeltreffende besluite kan neem en op probleme kan reageer soos en wanneer dit opduik."

Gafieldien sê hulle het die afgelope tyd slimmeterstelsels in die meeste geboue op die US se vyf kampusse geïnstalleer en 'n aantal projekte aangepak. Dit het reeds 'n aansienlike impak op energie- en waterverbruik en afvalbestuur by die Universiteit gehad. “Danksy ons slimmeterstelsels is ons aanpasbaar en soepel genoeg om vinnig te reageer en proaktief vir die toekoms te beplan. Dit stel ons ook in staat om ons verbruik na te gaan deur dit met ons rekeninginligting te vergelyk. Op dié manier het ons al heelwat bespaar."

Daarbenewens het die US se Admin B-gebou op 18 Maart 2021 die eerste gebou van sy soort in die land geword om 'n energieprestasiesertifikaat te verwerf. 'n Verdere 50 US-geboue sal binne die volgende agt maande gesertifiseer word.

Data-integrasie

Fasiliteitsbestuur het onlangs ook kragte saamgesnoer met prof Anton Basson en sy navorsingspan in die Departement Meganiese en Megatroniese Ingenieurswese om 'n stelsel te ontwikkel wat ál die verskillende nutsdiensdatabronne kan integreer. “In ons navorsing is ons op soek na maniere om inligting in komplekse stelsels – stelsels wat uit 'n klomp verskillende komponente en verwantskappe bestaan – te bestuur. Omdat die Universiteit se nutsdiensstelsel dinamies is, verander die data namate die stelsel ontwikkel," sê Basson. “'n Hele paar stelsels is wél kommersieel verkrygbaar, maar ons het besluit om ons eie, unieke, geïntegreerde stelsel te ontwikkel om Fasiliteitsbestuur se besluitneming en verslagdoening te ondersteun."

Hulle benadering berus op die idee om Digital Twins en Microservices in te span om data van bestaande stelsels te kombineer. Sodoende sal die Universiteit foute (soos waterlekkasies) vinnig kan opspoor, monitering en verslagdoening (soos oor elektrisiteitsverbruik en koolstofvrystellings) kan verbeter, met werklike gebruikspatrone (soos die benutting van lesingsale) kan tred hou, en ander datagedrewe besluite kan neem. “Die gedagte is om 'n basiese raamwerk te bou, en dan verdere modules by te voeg om die stelsel se vermoë uit te brei," verduidelik Basson, en voeg by dat die stelsel dus onbepaald kan groei namate behoeftes toeneem en nuwe databronne ingesluit word.

Dr Anro Redelinghuys het die basiese ontwerp vir die sagteware geskep, en werk tans aan die implementering van die stelsel. Die eerste kommersiële vrystelling is byna klaar. “Die stelsel sal uiteindelik verskillende gebruikers van verskillende paneelborde met werklike nutsdiensinligting voorsien, wat doeltreffende besluitneming sal moontlik maak," sê Basson.

Skep 'n volhoubare universiteit

Intussen werk Fasiliteitsbestuur se volhoubaarheidspan fluks daaraan om die US se prosesse en stelsels na meer volhoubare energiebronne te laat oorskakel en die impak op die omgewing te verminder, sê Gafieldien. Werk in dié verband sluit in die skep van die US se eie herwinningsaanleg, die installering van fotovoltaïese panele op die dakke van kampusgeboue, die konsolidasie en vermindering van lugversorgingstelsels en kragopwekkers, en die installering van gryswaterstelsels by koshuise en fakulteitsgeboue. Ál hierdie projekte het verdere kostebesparings teweeggebring, en help die US sy volhoubaarheidsdoelwitte bereik.

“Ons het selfs ons bome 'gedigitaliseer' om hulle waterverbruik te meet," sê Gafieldien glimlaggend. “In sommige gevalle het dít op 'n behoefte gedui om party bome met waterslim endemiese en inheemse soorte te vervang, wat ons sedertdien gedoen het."

* Klik hier ​om nog artikels te lees wat in Matieland verskyn.​