
Lancewood, Yara en Nexus AG vat voor as gholfdag- borge
"Die Fakulteit verleen jaarliks finansiële ondersteuning aan akademiese verdienstelike studente waarsonder baie nie hul studies sou kon voortsit nie. Daarom is ons diep dankbaar oor die positiewe wyse waarop industrievennote en ander ondersteuners die Fakulteit AgriWetenskappe gholfdag ondersteun, en sodoende ook 'n beursfonds waarby ons behoeftige studente direk kan baat."
Só gesels prof Danie Brink, waarnemende dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, op die vooraand van die sewende jaarlikse Fakulteit AgriWetenskappe gholfdag wat op Donderdag 17 November plaasvind.
"Deur die Fakulteit AgriWetenskappe-beursfonds kan ons die studieplanne van voornemende en huidige voorgraadse en nagraadse landboustudente gedeeltelik ondersteun, en kan ons bou aan 'n kundigheidsbasis wat uiters belangrik is vir 'n florerende Suid-Afrikaanse landbousektor en voedselbedrywe," brei prof Brink verder uit.
Die gholfdag word op De Zalze Gholfbaan gespeel. Met 36 spanne wat ingeskryf het, is dit die grootste byeenkoms van sy soort wat vanjaar op dié baan aangebied word.
Die Fakulteit is dankbaar oor al die pryse en bowwe wat reeds ruim deur industrievennote geborg word. Die medeborge vir vanjaar se geleentheid is die kaasvervaardiger Lancewood, die gewasoplossingsdiensverskaffer Nexus AG en die gewasvoedingsmaatskappy Yara Cape.
Lancewood
Lancewood is 'n gereelde ondersteuner van die Fakulteit se gholfdag, en tree vanjaar die eerste keer as medeborg op. Die maatskappy is bekend vir sy verskeidenheid kase en smere, waaronder talle pryswenners. Dit ondersteun gereeld soortgelyke geleenthede.
Maans Ammon, Lancewood se nasionale handelsbestuurder, het die hoop uitgespreek dat meer studente 'n loopbaan in die suiwelbedryf sal oorweeg, omdat kundigheid so 'n belangrike aspek van die bedryf se sukses is. Hy sê daar is groot druk op melkproduksie in Suid-Afrika, weens die droogte en die groot aanvraag na suiwelprodukte.
"Die getal suiwelboere daal jaarliks, en dit veroorsaak kommer oor toekomstige produksie," voeg hy by. "Dit wil voorkom asof die kundigheidsbasis in die suiwelindustrie aan die afneem is."
NexusAG
Dit is reeds die derde jaar dat Nexus AG by die gholfdag betrokke is. Die onderneming verskaf volhoubare gewasoplossingsdienste in terme van oesbeskerming, plantvoeding en grondkondisionering aan plaaslike landbouprodusente. Landbou is dus die ekonomiese sektor waarbinne Nexus AG grootliks sake doen.
"Ons ag dit daarom belangrik om geleenthede aan die landbouleiers van die toekoms te bied," reken Jacques du Preez, hoofuitvoerende bestuurder van Nexus AG in die Paarl. "Oorgenoeg landboukundigheid is nodig om voedselsekerheid wêreldwyd te verseker, en dit word onder meer gekweek by tersiêre instellings soos die US se Fakulteit AgriWetenskappe."
Benewens die betrokkenheid by die gholfdag ondersteun Nexus AG ook vyf onderrigbeurse op nagraadse, voorgraadse en skoolvlak. Vier van dié beursstudente studeer volg tans 'n landbouverwante program aan die Universiteit Stellenbosch.
Yara Cape
Yara verskaf plantvoedingsprodukte aan die primêre landboubedryf in meer as 150 lande. Yara Cape het 'n bemarkingsnetwerk vir produkte en dienste vir alle gewastipes regoor die Wes-, Suid- en Oos-Kaap.
Die gholfdag is nie die enigste manier waarop Yara Cape by die werksaamhede van die Fakulteit betrokke is nie. Die onderneming borg onder meer drie nagraadse beurse vir studente in die Departement Agronomie en Hortologie, en ondersteun navorsingsprojekte by laasgenoemde departement. Daarby borg dit ook die kunsmis wat jaarliks deur die Departement Agronomie benodig word.
"Ons sien die US Fakulteit AgriWetenskappa as 'n belangrike rolspeler en vennoot om kennis- en kundigheidsvlakke in die landbousektor uit te brei én jong landbouwetenskaplikes op te lei," vertel Jurie de Kock, bemarkingsbestuurder van Yara Cape.
Hy hoop dat die maatskappy se ondersteuning van die gholfdag – en daardeur dus ook die Fakulteit se beursfonds – sal bydrae tot kwaliteit landbou-opleiding vir mense met 'n passie vir die bedryf.
"Die Suid-Afrikaanse landbou het , ten spyte van baie uitdagings, 'n vooruitstrewende toekoms as dit reg bestuur word, en daarom is kennis en kundigheid 'n noodsaaklike hulpbron," reken De Kock. "Ons maatskappyfilosofie heg ook groot waarde daaraan, en daarom is ons slagspreek 'Knowledge Grows'".
- Volgens gholfdag-organiseerder me Carin Bruce van die Fakulteit Agriwetenskappe is die speellys vir die dag reeds vol, maar industrievennote en oudstudente is steeds welkom om by te dra tot hierdie waardevolle fondswerwingspoging. Vir meer inligting, kontak haar by [email protected] of 021 808 9047.