Skip to main content
‘Kunsmuseums het meer jongmense nodig’ – oud-direkteur van Iziko

‘Kunsmuseums het meer jongmense nodig’ – oud-direkteur van Iziko

Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
24 Oktober 2019

“Daar moenie 'n skeiding tussen jong en ouer mense wees wat kunsmuseums betref nie. Toeganklikheid is belangrik en die museums moet met die verloop van tyd transformeer. Meer jongmense moet betrokke raak en vriende van die museums word, asook kunsbeskermers en trustees."

Dít was die boodskap van Marilyn Martin, 'n voormalige direkteur van die Iziko Suid-Afrikaanse Nasionale Galery, toe sy Woensdag (23 Oktober 2019) by die Stellenbosse Universiteitsmuseum as deel van 'n etensuurgesprek oor haar boek, Between Dreams and Realities: A History of the South African National Gallery, 1871–2017, gepraat het.

Sy het in haar gesprek jongmense aangemoedig om in die kunsmuseumruimte betrokke te raak en het gesê die rol van museums moet wees om die gaping te help oorbrug deur opvoeding.

Volgens Martin moet kunsmuseums nie as eksklusief en elitisties gesien word nie, want, glo sy, “jy hoef nie 'n kundige te wees en kuns te ken ten einde dit te geniet nie. Al wat jy moet doen, is om oop te wees daarvoor en dit vir jouself te geniet."

Martin se gesprek by die museum het grootliks om haar boek, wat op haar werksondervinding en omvangryke navorsing oor die kunsmuseumbedryf gegrond is, gewentel. Die boek vestig ook die aandag op die prestasies van direkteure wat dikwels politieke agendas in die gesig moes staar en gespanne verhoudings binne en buite die instelling die hoof moes bied, en vier die Suid-Afrikaanse erfenis, kunsgeskiedenis en kulturele rykdom.

“Daar het diepgaande veranderinge in die Suid-Afrikaanse museum-ekostelsel plaasgevind. Daar moet 'n duidelik onderskeid tussen private en openbare museums getref word. Terwyl talle kunsmuseums deesdae finansieel swaarkry, moet ons onsself afvra, 'Wie swaai nou die septer?' en, 'Het mans, geld en die mark die kunsmuseum se ruimte ingeneem?'," sê Martin.

Martin meen die onderskeid tussen openbare en private museums het sover nog nie veel aandag gekry nie, maar die koms van groot private inisiatiewe in Kaapstad het 'n geleentheid geskep om terminologie en benamingstelsels (nomenklatuur) wat as vanselfsprekend aanvaar word, weer van nader te bekyk. Sy sê 'n gesprek oor die verskille, ooreenkomste en kruispunte moet aan die gang gesit word.

Sy werk sedert haar aftrede by Iziko-museums in 2008 as 'n onafhanklike skrywer en kurator. Voor haar loopbaan in die museumsektor was sy 'n senior dosent by die departement van argitektuur aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits).

Martin was ook 'n besoekende professor by die Kingston-universiteit in die Verenigde Koninkryk (2008–2011) en 'n senior vakkundige by die Michaelis Skool vir Skone Kunste en 'n dosent in Visuele en Kunsgeskiedenis aan die UK. In Julie 2016 is sy as 'n ere-navorsingsgenoot by die UK aangestel.

Martin het aan verskeie nasionale en internasionale konferensies deelgeneem en het al verskeie artikels oor kuns en kultuur vir nasionale en internasionale publikasies geskryf. Haar biografiese inligting verskyn onder meer in die Who's Who of Southern Africa en The International Who's Who of Women.

Vir meer inligting oor haar jongste boek, Between Dreams and Realities: A History of the South African National Gallery, 1871–2017, klik hier.

In die foto bo van links, Bongani Mgijima en Marilyn Martin.