Skip to main content
Kundiges bespreek waarde van leertegnologieë in onderwyseropleiding

Kundiges bespreek waarde van leertegnologieë in onderwyseropleiding

Pia Nänny
18 April 2016

​Die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) het onlangs die eerste ontmoeting van die nasionale forum vir gemengde leer (National Blended Learning Forum) aangebied.

Verteenwoordigers van verskeie universiteite, onder meer die Universiteit van Pretoria, Universiteit van Kaapstad, Universiteit van die Vrystaat, NMMU, UWK, Noordwes-universiteit en selfs die Edith Cowan Universiteit in Perth, Australië, het die geleentheid bygewoon.

Die forum spruit voort uit die strategiese beplanning van die Fakulteit Opvoedkunde om gemengde leer gevestig te kry, aldus prof Arend Carl, Visedekaan (Onderrig).

"Daar was egter 'n duidelike behoefte om nasionale navorsingsnetwerke te begin vorm, vandaar dan die verdere ondersoek by ander fakulteite opvoedkunde in die land."

Van die onderwerpe wat bespreek is, is: "How can I teach with learning technologies? Student reflections on the value of a pilot Digital Literacy Short Course in pre-service teacher training"; "Technology acceptance at the Faculty of Education, University of Pretoria"; en "Blended Learning for the 21st century teacher: Sharing practices and pitfalls from an Australian perspective".

Dr Sonja Strydom, Senior Adviseur in die Sentrum vir Leertegnologieë aan die US, het verduidelik dat verteenwoordigers van die Fakulteit Opvoedkunde verlede jaar by 'n aantal tersiêre instellings in die land besoek afgelê het om 'n aanduiding te kry van die mate waarop gemengde leer in die kurrikulum van onderwysstudente geïntegreer word.

"Ons het 'n behoefte geïdentifiseer om 'n forum te skep waar die verskillende fakulteite opvoedkunde met mekaar kan begin kommunikeer en moontlik saamwerk in terme van die integrasie van leertegnologieë en benaderings in die kurrikulum.

"Die forum stel homself dus ten doel om as 'n platform te dien waar verteenwoordigers van verskeie instellings in Suid-Afrika wat bemoeid is met onderwyseropleiding goeie praktyk kan deel en geleenthede kan identifiseer waar hulle kan saamwerk en navorsing doen oor die integrasie van leertegnologieë by sulke instellings."

Verteenwoordigers van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) is ook genooi om die seminaar by te woon om belyning en kontak tussen veral die fakulteite opvoedkunde in die Wes-Kaap met die WKOD te bevorder. Moontlikhede van samewerking word verder ondersoek, aangesien dit noodsaaklik is om onderwysers met die toepaslike vaardighede en kennis toe te rus.

Strydom sê dat hulle ten spyte van baie uitdagings opgewonde is oor die geleentheid om vir die eerste keer as verskillende instellings met mekaar te kommunikeer rakende die potensiële waarde van leertegnologieë in onderwyseropleiding.

"Die verskeidenheid van aanbiedings deur die dag het net weer bevestig hoe ryk en gediversifiseerd die benaderings in die verskillende instellings is. Daarom is die netwerk wat gevestig is van besondere waarde. Daar is kontak gemaak, uitnodigings gerig en geleenthede vir samewerking geïdentifiseer."

Die forum beplan om jaarliks só bymekaar te kom en wil ook 'n elektroniese platform skep waar verteenwoordigers op 'n meer gereelde grondslag met mekaar kan kommunikeer.