Skip to main content
Koskeuses – ʼn daaglikse uitdaging vir ma's

Koskeuses – ʼn daaglikse uitdaging vir ma's

FMHS Marketing & Communications
07 Oktober 2016

Nasionale Voedingsweek vind jaarliks van 9 tot 15 Oktober plaas. Vanjaar se tema, "Wees lief vir jou boontjies – eet droë bone, ertjies en lensies!", is gekies in ooreenstemming met die Voedsel- en Landbou-organisasie van die Verenigde Nasies (Food and Agriculture Organization of the United Nations) se besluit om 2016 aan te wys as die Internasionale Jaar van Peulgroente.

Kliek hier vir ʼn inligtingsblad wat saamgestel is deur me Irene Labuschagne, ʼn dieetkundige by die Voedingsinligtingsentrum by die Universiteit Stellenbosch (NICUS), met inligting oor die voordele wat peulgroente as bekostigbare en gesonde keuse inhou en aanbevelings en praktiese wenke oor waarom en hoe jy peulgroente by jou dieet kan insluit om jou gesondheid te bevorder.

Koskeuses – ʼn daaglikse uitdaging vir ma's

Twee navorsers aan die Universiteit Stellenbosch (US) het met ʼn onlangse studie bevind dat ma's met laerskoolkinders in Kaapstad daagliks deur uitdagings in die gesig gestaar word wanneer hulle keuses oor kos maak wat gesonde eetgewoontes by hulle kinders sal kweek en die risiko van siektes later in hulle lewens sal verlaag.

Ma's van jong kinders het die vernaamste invloed op en beheer oor die kos wat hulle kinders eet en waartoe hulle toegang het. Hulle speel ʼn fundamentele rol in die bevordering van gesonde leefstylgewoontes by hulle kinders. "Dieetgewoontes sluit in gesonde koskeuses wat tydens die kinderjare aangeleer word en in die volwasse lewe voortduur. Dit lê die grondslag vir volwasse gesondheid en lewensgehalte," het me Yolande Smit gesê. Sy is ʼn dosent by die Afdeling Menslike Voeding van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Smit en haar kollega, me Nelene Koen, ook ʼn dosent in Menslike Voeding, het die faktore ondersoek wat hierdie ma's se koskeuses beïnvloed. Hulle het bevind dat ma's daagliks deur ʼn uitdaging in die gesig gestaar word wanneer hulle keuses oor kos maak. Hulle moet verskeie faktore in ag neem soos die prys, smaak, kinders se voorkeure en die voedingswaarde van die produkte. Voeg daarby tydsbeperkings, gesinsvoorkeure en groepsdruk van hulle kinders se vriende, en die keuses raak nog meer ingewikkeld.

Volgens Koen het ma's wat aan die studie deelgeneem het oor ʼn redelike goeie kennis van voeding beskik, maar dit was vir hulle moeilik om dié kennis in praktyk om te skakel as gevolg van bogenoemde uitdagings. "Ma's was bekommerd oor die hoë prys van gesonde kos wat hulle verhinder het om die items te koop."

Sy het verduidelik dat ma's gedurende die fokusgroepsbesprekings ʼn behoefte uitgespreek het aan ʼn omgewing wat beter ondersteuning bied om gesonde koskeuses die maklikste keuse te maak. Hindernisse wat bespreek is, het die uitleg van supermarkte en teenstrydige boodskappe in die media en die skoolomgewings ingesluit. Dit is dus duidelik dat die kosomgewings ʼn belangrike rol speel om ma's te ondersteun om gesonder koskeuses te maak.

Werkende ma's wat aan die studie deelgeneem het, het verduidelik dat besige werk- en gesinskedules daartoe lei dat hulle meer op voorafbereide etes en kitskos staatmaak. Hierdie keuses bevat gewoonlik meer vette, suiker en sout in vergelyking met tuisvoorbereide etes. Hierdie neiging lei ook tot die vervanging ook die tradisionele rol van die ma wat gesonde tuisvoorbereide etes maak en kan ʼn negatiewe invloed hê op kindergesondheid en dieetgewoontes.

Alhoewel die huis ʼn logiese omgewing is waar gesonde eetgewoontes aangeleer kan word, het navorsing getoon dat koskeuses ingewikkeld is en deur verskeie faktore beïnvloed word, insluitend kennis van voeding, sosio-ekonomiese status, onkoste, smaak, die kind se voorkeure en kultuur. Hierdie faktore het uiteindelik ʼn invloed op die kos wat by die huis beskikbaar is.

Hierdie navorsing plaas ook klem op die belangrikheid van volgehoue voedingsopleiding en -ondersteuning van ma's sodat hulle gesonde leefstylgewoontes by hulle kinders kan kweek. "Daar is ʼn behoefte dat ma's ondersteun moet word om hulle bestaande kennis van voeding prakties toe te pas. Die werkende ma het verder ʼn behoefte uitgespreek dat gesonder voorafbereide etes meer geredelik beskikbaar is," het Koen gesê.

Dokters, gesondheidspraktisyns en tydskrifte is genoem as die hoofbronne van voedingsinligting vir hierdie groep ma's. Dit is dus uiters belangrik dat die regte voedingsboodskappe deur hierdie bronne aan die publiek oorgedra word.

Smit het verduidelik dat dit belangrik is om navorsing te doen oor eetgewoontes by jong kinders om raad te kan gee aan gesondheidspraktisyns, beleidmakers en die regering. Kindervetsugtigheid, ʼn risikofaktor vir nie-oordraagbare siektes soos tipe II diabetes en kardiovaskulêre siektes, lei dikwels tot vetsugtigheid in die volwasse jare. Dit hou verband met kinders wat in omgewings grootword waar gewigstoename aanvaarbaar is en gewigsverlies nie bevorder word nie.

"Suid-Afrika het ʼn dubbele siektelasprofiel, met wanvoeding te midde van ʼn toenemende vetsug-epidemie. Hierdie openbare gesondheidsprofiel kom ook by jong kinders voor," het sy gesê.

Medianavrae

Bemarkingskoördineerder

Mandi Barnard

+27 (0)21 938 9505

[email protected]

Afdeling Bemarking en Kommunikasie

Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Universiteit Stellenbosch  

Webwerf:       www.sun.ac.za/health

Facebook:     www.facebook.com/SUhealthsci

Twitter:           @SUhealthsci