
Kommersialisering van toegang tot satellietdata kan bewaringspogings belemmer
ʼn Besluit deur die United States Geological Survey (USGS) om die moontlikheid van kommersialisering van toegang tot satellietdata wat deur bewaringsagentskappe gebruik word, te ondersoek, kan moontlik bewaringspogings oor die wêreld heen, spesifiek in Suid-Afrika en die res van Afrika, negatief beïnvloed. Dit is die mening van dr Helen de Klerk, ʼn senior dosent in die Departement Geografie en Omgewingstudies by die Universiteit Stellenbosch (US), en dr Zoltan Szantoi, ʼn medenavorser by dieselfde departement.
Hul kommer is openbaar gemaak deur ʼn brief geskryf in samewerking met vakkundiges van:
- die RSPB Centre for Conservation Science van die Royal Society for the Protection of Birds in die VK;
- die Wildlife Biology Program van die departement van ekostelsel- en bewaringstudies by die University of Montana in die VSA;
- die fakulteit natuurwetenskappe en wiskunde by die Universidad del Rosario in Colombia;
- BirdLife International in Cambridge, VK;
- die CAESCG by die University of Almería in Spanje;
- die Betty & Gordon Moore Center for Science by Conservation International in die VSA;
- die BC3-Basque Centre for Climate Change op die wetenskapkampus van die University of the Basque Country in Spanje;
- die Institute of Zoology by die Zoological Society of London in die VK;
- Geo-Information Science and Earth Observation by die University of Twente in Nederland;
- die Institute of Geography and Geology in Duitsland; en
- die School of Natural Sciences and Psychology by Liverpool John Moores University in die VK.
Die brief is onlangs in die vooraanstaande internasionale vaktydskrif, Science (13 Julie 2018, vol. 361, uitg. 6398, bl. 139–140, doi: 10.1126/science.aau2650) gepubliseer.
Volgens die vakkundiges het die beskikbaarheid van gratis hoëresolusie-satellietdata, wat in 2008 deur die USGS moontlik gemaak is, bykans ʼn omwenteling teweeggebring in die vermoë van omgewingsbewaarders om biodiversiteit globaal te monitor deur met hierdie data veranderinge waar te neem, bewaringsprioriteite te stel en hul visier op bewaringsoptrede te rig.
“Hierdie openbare stelling deur vakkundiges op die gebied van bewaring en ekologie en die afstandwaarnemings- en georuimtelike domeine is daarop gemik om ʼn swaargewig-beroep te doen op die gratis beskikbaarheid van hoëresolusie-satellietdata vir almal, aangesien dit ʼn invloed sal hê op ons vermoë om die habitats van spesies soos watervoëls en sjimpansees te karteer en te monitor. Biodiversiteit onderhou ekologiese funksionering en die monitering daarvan is noodsaaklik aangesien dit ʼn impak het op voedselsekerheid, natuurlike hulpbronne soos water, landbou en klimaatsverandering, om net ʼn paar te noem," voeg De Klerk by.
“Om van verbruikers te verwag om te betaal, sal hierdie beelde buite bereik van omgewingsbewaarders plaas. Dit sal die ontleding van tydreekse (reekse numeriese datapunte wat oor ʼn tydinterval gemeet word) tot stilstand bring, wat nuttig is in die monitering van die gevolge van klimaatsverandering en landbedekkingverandering en die aardmonitering van kuste, wat waarskynlik die bereiking van die Verenigde Nasies se 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte waarna talle lande streef, in die wiele sal ry.
“Al verskaf die Sentinel-2-satelliete deur die Europese Kommissie soortgelyke data gratis, word waarnemings in sekere gebiede, veral in Ekwatoriaal-Afrika, deur wolkbedekking belemmer, en dus is Landsat se beelde absoluut noodsaaklik om genoeg inligting in te samel vir tydreeksontleding en die monitering van landbedekkingverandering," sê Szantoi.
Uit die 17 Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte verwys nege na volhoubaarheid ten opsigte van voedselsekerheid; waterhulpbronne; skoon energie, volhoubare stede en gemeenskappe; verantwoordelike verbruik en produksie; klimaatsverandering; die oseane, seë en mariene hulpbronne; en ekostelsels.
De Klerk en Szantoi sê onlangse nuus dat die USGS ʼn advieskomitee byeengeroep het om te bepaal of gebruikers van die diens bereid sou wees om te betaal vir verhoogde spektrale en spesiale resolusiebeelde is “uiters kommerwekkend" vir sowel akademici as bewaringspraktisyns. Die besluit om weg te doen met gratis toegang sal ʼn impak hê op gebruikers se vermoë om belangrike habitats, insluitende woude en fynbos, te monitor om by te dra tot goeie besluitneming en beplanning, asook om waarskuwings uit te reik wanneer beskermde gebiede en ander natuurlike landskappe deur onwettige aktiwiteite benadeel word," voeg De Klerk en Szantoi by.
Volgens die vakkundiges beleef biodiversiteit ʼn krisis, met grootteordes van uitsterwingskoerse hoër as agtergrondvlakke. Onderbefondste omgewingsbewaarders moet hul beperkte hulpbronne doeltreffend aanwend. Die USGS se besluit om data gratis beskikbaar te stel, is deur die Copernicus-program van die Europese Kommissie gevolg, wat gevolglik hul data ook beskikbaar gestel het. Hierdie hulpbronne was bevorderlik vir biodiversiteitsnavorsing.
Hulle voer voorts aan dat assesserings van omgewingsveranderinge soos ontbossing nou geredelik beskikbaar is. Die huidige ruimtelike en spektrale resolusie van Landsat-data maak dit geskik vir talle bewaringstoepassings, en alhoewel dit nie altyd ideaal is nie, gebruik pragmatiese navorsers met beperkte hulpbronne dit gereeld. Die vakkundiges is van mening dat die USGS daadwerklik aangespoor moet word om hul posisie te heroorweeg en om voort te gaan om data van die Landsat-program gratis aan alle gebruikers beskikbaar te stel.
Foto: Personeel van CapeNature leer hoe om die gratis satelliet-data te gebruik tydens ʼn werkswinkel aangebied deur CapeNature se GIS-span (verskaf deur CapeNature-personeel).