Skip to main content
KI van volstruise verder uitgepluis

KI van volstruise verder uitgepluis

Engela Duvenage
10 Junie 2016

Die langtermyn-doelwit om die teling van volstruise op 'n sterker wetenskaplike voetstuk te plaas én kundigheid daaroor aan die plaaslike bedryf te verskaf, het 'n hupstoot gekry danksy die navorsingswerk van dr Marna Smith. Sy het as deel van haar doktorale studies aan die Universiteit Stellenbosch 'n protokol vasgestel waardeur volstruissemen ten beste suksesvol vir 'n paar uur verkoel of op die langtermyn gevries kan word totdat dit vir die kunsmatige inseminasie (KI) van wyfies nodig is.

Dr Smith het in Maart haar doktorsgraad in Veekundige Wetenskappe oor dié onderwerp aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Dié inwoner van Botrivier in die Overberg se navorsing vorm deel van 'n groter projek oor die verbetering van volstruisteling waarby kundiges van die Wes-Kaapse Department van Landbou en studente en personeel van die US onder meer betrokke is. Verbeterde praktyke wat gepaard gaan met ondersteunende voortplantingstegnieke sal privaattelers in staat stel om volstruise baie meer spesifiek te kan teel sodat spesifieke genetiese kenmerke konstant van geslag tot geslag oorgedra kan word.

Geberge semen van elite voëls met gehalte genetiese eienskappe kan dus vanaf ander stoeterye ingekoop word om te gebruik in die bevrugting van wyfies.

Die langtermyn bewaring van volstruissemen maak dit ook moontlik om wyfies gedurende hul belangrikste reproduksiemaande kunsmatig te insemineer met bevrore saad wat geoes is tydens periodes wanneer semenproduksie weer op sy beste is. Hierdie periodes stem in die natuur nie altyd ooreen nie.

"Beter bewaringsmetodes sal dit moontlik maak om volstruisstoeterye met duidelik naspeurbare stambome op te bou," verduidelik dr Smith. Dit is 'n aspek wat tans nie maklik haalbaar is vir die plaaslike bedryf nie, omdat genetiese toetsing en die vasstelling van ouerskap tussen vrylopende volstruise nie vir meeste boere bekostigbaar is nie.

In die proses hoef boerderye en stoeterye dus ook minder mannetjies aanhou. "Minder mannetjies of geen mannetjies beteken aansienlik minder kostes en 'n hoër winsgrens vir boere," verduidelik dr Smith van die voordele agter kunsmatige inseminasieprogramme. "Mens hoef ook met minder aggressiewe mannetjies werk, wat sake veiliger vir werkers maak."

Dit maak ook die skep van 'n biobank moontlik waarin die voorplantingsmateriaal van volstruise met goeie genetiese eienskappe bewaar kan word. Dit is nie net belangrik vir die instandhouding van goeie stoeterye nie, maar kan ook nuttig wees wanneer kolonies weer opgebou moet word na afloop van siektetoestande soos voëlgriep waartydens besmette diere van kant gemaak moet word.

"So skep mens dus 'n biobank van goeie genetiese hulpbron wat dit makliker maak om na afloop van 'n siekte weer 'n sterk, diverse bevolking kolonie op te bou," reken haar hoofstudieleier, prof Schalk Cloete, 'n buitengewone professor aan die US se Departement Veekundige Wetenskappe, en 'n lid van die Wes-Kaapse Departement van Landbou se navorsingspan.

Dr Smith het onder meer die eerste volstruisspesifieke verdunningsmedium vir volstruissemen ontwikkel. Sy het ook bepaal hoe dit die beste tot 5 grade Celsius geberg kan word vir tot 48 uur, terwyl dit byvoorbeeld tussen plase vervoer moet word. Sy het ook vasgestel hoe om volstruissemen op die langtermyn te vries in vloeibare stikstof, danksy die byvoeging van 'n kriobeskermende medium.

"Daar was geen effek op eiervrugbaarheid tussen die wyfies wat met verkoelde of bevrore semen geïnsemineer is teenoor dié wat vars onbehandelde semen ontvang het nie," voeg dr Smith by.

Van haar bevindinge is reeds in verskeie vaktydskrifartikels uiteengesit. In 'n artikel in Animal Reproduction Science vroeër vanjaar sit sy onder meer verskillende parameters uiteen waarvolgens volstruissemen geklassifiseer kan word.

"Hierdie parameters stel telers in staat om die potensiële vrugbaarheid van volstruismannetjies te evalueer, en hoe geskik elkeen se semen sou wees as jy dit wil berg vir toekomstige gebruik as deel van 'n meer intensiewe telingsprogram," verduidelik dr Smith.

Sy stel voor dat hierdie evaluasie tydens die lente en vroeë somer plaasvind, wanneer volstruismannetjies 'n piek beleef in die produksie van semen.

Vir verdere verwysing, lees onder meer:

Smith, A.M.J. et al (2016). Classification of ostrich sperm characteristics, Animal Reproduction Science.