
Jong navorsers sak einde Augustus op die Eikestad toe
Augustusmaand is ekspo-maand!
Op 25 en 26 Augustus gaan dit behoorlik gons in Stellenbosch se stadsaal wanneer 287 leerders van 24 verskillende skole hul navorsing by die Ekspo vir Jong Wetenskaplikes-kompetisie ten toon stel.
Die nasionale kompetisie, waarvan die Stellenbosch-streekkompetisie deel uitmaak, is die grootste van sy soort op skoolvlak in Suid-Afrika met leerders van al nege provinsies wat aan 35 verskillende streekskompetisies deelneem.
Dr Trevor van Louw, direkteur van die Sentrum vir Pedagogie in die Fakulteit Opvoedkunde by die Universiteit Stellenbosch (SUNSEP), sê hulle is baie opgewonde oor die inskrywings en veral oor die skole wat vanjaar vir die eerste keer deelneem.
SUNSEP is saam met die Fakulteit Natuurwetenskappe verantwoordelik vir die organisering van die Stellenbosch-streekskompetisie.
Die projekte word deur ongeveer 80 vrywilligers beoordeel: onderwysers, dosente en nagraadse studente van verskillende fakulteite by die US, asook werknemers van instansies soos iTthemba Labs, Eskom en die Suid-Afrikaanse Weerburo.
Die beoordeling begin Donderdagaand 25 Augustus. Die publiek is welkom om op Vrydag 26 Augustus vanaf 11:00 die uitstalling te kom besigtig en die wetenskaplikes van môre te ontmoet. Mnr Yashren Reddi van Spaceteq (Denel) sal die deelnemers om 14:00 toespreek. Die prysuitdeling vind om 15:00 plaas.
Uit elke streek word ʼn aantal projekte gekies om aan die nasionale kompetisie deel te neem. Dit vind in Oktober in Johannesburg plaas. By daardie geleentheid kan leerders ook gekies word om Suid-Afrika by internasionale kompetisies te verteenwoordig.