
IPB se wetenskapwenspan bevorder vaktaal
Twee MSc-studente van die Instituut vir Plantbiotegnologie (IPB) aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Genetika, Melt Hugo en Janto Pieters (onder leiding van hulle studieleiers drs Shaun Peters en Bianke Loedolff), het vanjaar bewys dat wetenskap geen taalgrense ken nie. Mnre Hugo en Pieters het die jaarlikse Studentesimposium in die Natuurwetenskappe 2017 by die Universiteit van Pretoria (UP) bygewoon waar al die werk in Afrikaans aangebied moes word – en dit wil mos nou gedoen wees. Veral vir mnr Hugo, 'n tweedetaalspreker van Afrikaans, wat sy werk in verband met eksotiese suikers (die raffinosefamilie van oligosakkariede) in plakkaatvorm ten toon gestel het en dit met 'n praatjie van vier minute oor die onderwerp opgevolg het. Mnr Hugo het trots teruggekeer met twee pryse: (i) Die AfriForum-prys vir 'n besonderse bydrae deur ʹn niemoedertaalspreker van Afrikaans, asook die (ii) CText-toekenning vir ʹn bydrae met meriete vir die plakkaat. Mnr Pieters is gekeur vir 'n praatjie oor sy werk in verband met metagenomiese biblioteke en die soektog na biopolimeervormende suikers wat as prebiotiese middels kan dien. Mnr Pieters wat sy praatjie (aangevul met strykyster, strykplank en TV) eers die aand voor die konferensie kon inoefen, het ewe trots met 'n wetenskapmerieteprys, die Blue Stallion-toekenning (Sigma Plot), vir sy bydrae weggestap. Boonop gaan al twee se uitgebreide referaat‑/plakkaatopsommings in die SA Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie gepubliseer word.
Mnre Hugo en Pieters het nie alleen hulle eie taalgrense in die wetenskap uitgedaag nie, maar ook bewys dat 'n mens wetenskap op enige platform kan verteenwoordig. Die twee sien uit daarna om hulle MSc-graad in Desember 2018 te behaal, waarna hulle die PhD-pad in wetenskap wil aandurf. Mag ons nog baanbrekerswerk deur hierdie twee veelsydige US-studente in die toekoms sien.
Foto: MSc-studente en hulle studieleiers spog met die wetenskapplakkaat wat mnr Melt Hugo by die Studentesimposium in die Natuurwetenskappe 2017 by die UP aangebied het. Van links na regs, dr Shaun Peters, mnr Melt Hugo, mnr Janto Pieters en dr Bianke Loedolff.