Internasionale konferensie en beraad ondersoek rol van sakesektor in sosiale geregtigheid
Nasionale leiers uit die akademie, regering, sakesektor, burgerlike samelewing, die diplomatieke gemeenskap en kundiges van regoor die wêreld kom in Oktober vir twee dae in Kaapstad byeen om nuwe lig op die rol van die sakesektor en die burgerlike samelewing in die bevordering van sosiale geregtigheid te werp. Die vierde Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid en die vyfde Jaarlikse Beraad oor Sosiale Geregtigheid word op 11 en 12 Oktober by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad gehou. Die geleenthede word deur die Sentrum vir Sosiale Geregtigheid (CSJ) by die Universiteit Stellenbosch (US) en die Raad vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid aangebied. Sakeondernemings en maatskappye kan ’n uiters belangrike rol in die ondersteuning van inisiatiewe vir sosiale geregtigheid speel, sê prof Thuli Madonsela, direkteur van die CSJ. “Die nalatenskap van apartheid het diepgewortelde sosio-ekonomiese ongelykhede in Suid-Afrika veroorsaak en die bevordering van sosiale geregtigheid het ’n groot fokuspunt geword. Daar is die afgelope paar jaar toenemend erken dat sakeondernemings meer moet doen as hulle tradisionele aktiwiteite om wins te maak en aktief tot die aanspreek van sosiale kwessies en ongelykhede moet bydrae. Daar word ’n beroep op die sakesektor gedoen om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle impak op die samelewing en om aktief by te dra tot die skep van ’n billiker en meer inklusiewe land. Sakeleiers het die mag om dít waaraan ons waarde heg in die samelewing, te vorm en hulle het ’n plig om hulle invloed ten goede aan te wend. Selfs die kragtigste korporatiewe sosiale beleggingspoging kan nie vergoed vir ’n onderneming wat sy werknemers onderbetaal of vir verskaffers wat hulle kliënte te veel vra nie,” merk Madonsela op. “Ons sien uit na die besprekings wat nuwe insigte en strategieë sal bring wat werklik ’n verskil sal maak. Die korporatiewe stem kan doeltreffend gebruik word om die sosiale, ekonomiese, omgewings- en gesondheidsbehoeftes van die gemeenskappe wat hulle dien, aan te spreek. Samewerkende sosialegeregtigheidingrypings kan ’n kragtige instrument wees om sistemiese sosiale verandering mee te bring.” Songezo Mabece, ’n regsgeleerde wat in regsasvies en -navorsing, openbare beleid en regulatiewe werk spesialiseer, sal as programdirekteur by die internasionale konferensie optree. Die bekende mediapersoonlikheid en entrepreneur, Basetsana Kumalo, sal die internasionale beraad fasiliteer. Die minister van justisie en korrektiewe dienste, Ronald Lamola, sal die hoofspreker by dié geleentheid wees. Die verwelkomingstoespraak by die beraad sal deur Busisiwe Mavuso, die hoof- uitvoerende beampte van Business Leadership South Africa, gelewer word. Vooraanstaande akademici van die US soos prof Stan du Plessis, bedryfshoof, prof Nicola Smit, dekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid, asook Madonsela is van die uitgelese sprekers wat sal optree. Een van die hoogtepunte van die Beraad oor Sosiale Geregtigheid op 12 Oktober sal die aankondiging van die Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die jaar wees. Die hoofdoel van hierdie inisiatief is om ’n Suid-Afrikaner aan te wys wat ’n positiewe verskil maak om sosiale geregtigheid te bevorder. Verlede jaar se wenner was Lorenzo Davids, ’n leier en veteraan in sosiale geregtigheid, en in 2021 het dié eer dr Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers te beurt geval. In 2022 is nog ’n jaarlikse toekenning vir ’n Suid-Afrikaner wat tot die bevordering van sosiale kohesie verbonde is, by die Beraad vir Sosiale Geregtigheid bekend gestel. Die Brugbouertoekenning gee erkenning aan iemand wat op ’n buitengewone manier daarin geslaag het om die verdeeldheid van die verlede uit te wis deur sosiale brûe te bou tussen groepe en gemeenskappe wat histories verdeeld was. Dié toekenning bring hulde aan wyle dr Beatrice Wiid, ’n voormalige lid van die Raad vir Kampvegters vir Sosiale Geregtigheid, wat uitstekend daarin geslaag het om brûe tussen gemeenskappe te bou wat deur ekonomiese en historiese rasse-ongelykhede verdeel was ten einde sosiale kohesie en vrede te bewerkstellig. Vennote vir Moontlikhede (“Partners for Possibility”), die pronkprogram van die niewinsgewende organisasie Citizen Leader Lab, was in 2022 die eerste ontvanger van die Brugbouertoekenning ter erkenning van die organisasie se pogings om sosiale kohesie in Suid-Afrika aan te moedig. Citizen Leader Lab fokus tans op die versterking en bevordering van leierskapsontwikkeling en -ondersteuning binne die onderwys-ekostelsel. Benoemings vir die Sosiale Geregtigheid-kampvegter van die jaar-toekenning en die Brugbouertoekenning sal binnekort open.
- Wanneer? Die interdissiplinêre vierde Jaarlikse Internasionale Konferensie oor Sosiale Geregtigheid word 11 Oktober gehou, gevolg deur die vyfde Jaarlikse Beraad oor Sosiale Geregtigheid op 12 Oktober 2023.
- Waar? Albei geleenthede word by die Kunstekaap-teatersentrum in Kaapstad gehou en kan persoonlik of aanlyn bygewoon word.
- Skakel om te registreer: http://forms.office.com/r/ykWAebEkve
- Vir meer inligting, insluitende oor registrasies en ander sake, kontak asseblief vir Fanelesibonge Ndebele by [email protected] of +27(0)21 808 9734.