Skip to main content
Internasionale Dag vir Verpleegkundiges: Verpleegkundiges hervorm die toekoms van gesondheidsorg

Internasionale Dag vir Verpleegkundiges: Verpleegkundiges hervorm die toekoms van gesondheidsorg

Portia Jordan
12 Mei 2021

Woensdag (12 Mei) is die Internasionale Dag vir Verpleegkundiges. In ʼn meningsartikel vir Cape Times skryf prof Portia Jordan van die Departement Verpleeg- en Verloskunde oor hoe verpleegkundiges die toekoms van gesondheidsorg hervorm.

  • ​Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Portia Jordan*

Verpleegkundiges is 'n onkeerbare mag en 'n ongelooflike werksmag in die gesondheidsorgomgewing. Volgens die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging se databasis is daar ongeveer 400 000 verpleegkundiges in Suid-Afrika, wat verpleging 'n integrale en noodsaaklike deel van ons ekonomie maak. Die Buro vir Arbeidstatistiek in die Verenigde State verwag dat die verplegingsektor teen 2028 met 12% sal groei, wat baie vinniger is as die gemiddelde beroep.

Verpleegkundiges is die helde van ons gesondheidsorgstelsel, deur siek én gesonde mense regoor die wêreld om te sien. Die wêreldwye COVID-19-pandemie het vir die wêreld gewys watter belangrike rol verpleegkundiges speel om mense van alle ouderdomme gesond te hou. Terwyl ons land die pandemie beveg, is dit bewys dat verpleegkundiges 'n kritieke rol speel om die gesondheidsorgstelsel aan die gang te hou en vir goeie bestuur te sorg. Hoewel gesondheidsorg aansienlik ontwrig is te midde van 'n ongekende pandemie, was daar ook betekenisvolle innovasie wat toegang tot sorg verbeter het. Die vrae wat dus onstaan, is: Hoe lyk die toekoms van verpleegkunde vir hierdie helde van die gesondheidsorgstelsel? Watter rol sal verpleegkundiges in die toekomstige transformasie van die lewering van gesondheidsorg speel?

Die Internasionale Raad vir Verpleegkundiges (ICN) staan jaarliks aan die voorpunt van die wêreldwye viering van die Internasionale Dag vir Verpleegkundiges wat op 12 Mei gehou word. Die viering is ter ere van die herdenking van die geboorte van die voorloper- en baanbreker-verpleegkundige, Florence Nightingale. Die ICN het aangekondig dat vanjaar se subtema vir die 2021 Internasionale Dag vir Verpleegkundiges, “'n Visie vir toekomstige gesondheidsorg",  verder sal voortbou op die oorkoepelende tema, “Verpleegkundiges – 'n stem wat lei". Dit beteken verpleegkundiges moet voorgaan om die leiding te neem in sorglewering, terwyl hulle terselfdertyd ook verantwoordelikheid neem om gesondheidsorg te hervorm en om 'n visie vir gesondheidsorg daar te stel. Verpleegkundige innovasie in die aangesig van 'n ongekende wêreldwye pandemie en gesondheidkrisis sal die fokus van die 2021-vieringe van verpleegkundiges wees.

Kom ons gee erkenning aan verpleegkundiges as “die stem wat lei en wat die vermoë het om 'n visie vir toekomstige gesondheidsorg te ontwikkel en dit te hervorm" wanneer ons die Internasionale Dag vir Verpleegkundiges 2021 vier.

*Klik hier om prof Portia Jordan se volledige meningsartikel te lees. Sy is die uitvoerende hoof van die departement Verpleeg- en Verloskunde by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.