
Iimbovane se werkswinkel oor miere wen by SciFest Africa
By die onlangse SciFest Africa het 'n praktiese werkswinkel oor die wonderwêreld van miere en hulle verwantskap met biodiversiteit, die Iimbovane Uitreikprojek die prys laat wen vir die beste werkswinkel geskoei op die kurrikulum.
Iimbovane (miere in iSiXhosa) is 'n uitreikprojek wat ondersteun word deur die DWT- NNS Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (S·I·B) wat by die Universiteit Stellenbosch gehuisves word.
Die Iimbovane-span, wat bestaan uit Dorette du Plessis, Londiwe Msomi en Sophia Turner, het SciFest Africa bygewoon, gewapen met mikroskope en 'n volledige mini-laboratorium: "Ons doelwit was om leerders te verras met fassinerende feite oor miere, die belangrike rol wat hulle in die ekosisteem speel, en hoe miere aan hulle wetenskaplike name gekom het. Ons het ook praktiese aktiwiteite ingesluit soos mierjag, en die beskrywing van miere se eienskappe deur gebruik te maak van 'n mikroskoop," sê me. Dorette du Plessis, Iimbovane se projekbestuurder.
Het jy byvoorbeeld geweet dat miere hare op hulle lyfies het? Of dat sommige spesies ondergrondse stede bou wat so diep as ag meter strek?
Die werkswinkel het ook inligting ingesluit oor die verskeidenheid studierigtings in biodiversiteit en bewaringswetenskap wat jy kan volg aan die Universiteit Stellenbosch.
'n Leerder van Kimberley Boys' High, Lubabalo Nonkonyana, was vol lof nadat hy die werkswinkel bygewoon het: "Dit het my kennis van miere opgeskerp, maar ek het ook baie nuwe feite geleer oor hoe belangrik miere vir die omgewing is. Baie dankie vir 'n ongelooflike skou!"
Mnr. Clive Biggs, lewenswetenskappe-opvoeder by York High School in George, sê hy en sy kollegas was "absoluut gefassineer by die werkswinkel", spesifiek met die mikroskoopwerk: "Dit was interessant om te sien hoe miere gebruik kan word om biodiversiteit en biologiese klassifikasie te onderrig, beide konsepte wat in die Lewenswetenskappe-kurrikulum is. Ons het nou ewe skielik mierdeskundiges as deel van die Lewenswetenskappe-personeel!"
Dit is die tweede keer dat die Iimbovane Uitreikprojek gekies is om aan Scifest Africa deel te neem as een van die 650 geleenthede of aktiwiteite. Iimbovane Uitreikprojek wat in 2006 tot stand gekom het, is 'n langtermyn moniteringsprojek wat fokus op mierdiversiteit in verskillende natuurlike en aangepaste landskappe. Die projek betrek opvoeders en leerders van meer as 18 skole, en bied ondersteuning met die monitering van miere op hulle onderskeie skoolgronde. Die projek word gefinansier deur die Rand Merchant Bank Fonds, AfriSam, en die S·I·B.
SciFest Africa is Suid-Afrika se nasionale wetenskapsfees en die grootste in Suider-Afrika. Vanjaar is dit van 2 tot 8 Maart in Grahamstad aangebied met die tema "A matter of time".
Volg die Iimbovane Uitreikprojek (Iimbovane Outreach Project) op Facebook