
HSMS-beurse bevorder landelike gesondheid
Meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse bevolking woon in landelike gebiede en daarom is gesondheidsorg in dié gebiede 'n ewige kwelpunt.
Een van die inisiatiewe wat help om die uitdaging aan te spreek is te danke aan 'n Hollandse pulmonoloog en sy verhouding met die Universiteit Stellenbosch (US).
Dr Stijn Mol het sowat 30 jaar gelede opleiding ontvang by die Tygerberg-hospitaal en na talle verrykende besoeke aan Suid-Afrika 'n behoefte gehad om terug te ploeg in dié land. In 2001 het hy die Holland Stellenbosch Mediese-stigting (HSMS) saam met sy venoot en mede-pulmonoloog, dr Maarten van Nierop gestig. Die doel was aanvanklik om projekte van die US se Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid finansieël te ondersteun, vertel me Lindsay-Michelle Meyer, koördineerder van die HSMS-projek.
In 2006 het hulle egter op 'n meer gefokusde aanslag besluit en in 2008 'n beursprogram geloods. Dié program, wat met 'n enkele beurstoekenning begin het, het vanjaar beurse ter waarde van R70 000 elk aan 12 studente, met 'n belangstelling in gemeenskapsgesondheid en 'n passie vir die verbetering van omstandighede in onderbediende areas, gegun.
Rulanda Pretorius, 'n vierdejaar fisioterapiestudent, sê sy sou nie haar finale jaar gemeenskapsopleiding in Worcester kon voltooi as dit nie vir dié geleentheid was nie. Pretorius glo dat diensverskaffing en die opvolg van pasiënte van die grootste uitdagings in landelike gebiede is.
"Beroertes as gevolg van hipertensie en diabetes is algemeen, maar pasiënte kom dikwels eers maande ná hul beroerte by 'n fisioterapeut uit as gevolg van die werkslading."
Dr Jasper van Zyl was in 2012 'n HSMS-beurs ontvanger en werk tans as 'n mediese beampte in Psigiatrie by Worcester Hospitaal. Hy stem saam dat pasiëntelading en 'n gebrek aan personeel druk plaas op gesondheidspraktisyns en gehaltediens beïnvloed. "Pasiënte op die platteland het uitdagings waarmee 'n interprofessionele span kan help, maar as daar nie tyd is nie, kan daar nie aandag gegee word daaraan nie." Hy hoop dat selfs nog meer geleenthede beskikbaar sal word om sodoende 'n beter gehaltediens aan pasiënte te kan lewer.
Natasha du Preez, 'n finale jaar dieetkundestudent en beursontvanger, wil graag opvoedingswerk in voorheen benadeelde gemeenskappe doen en sê haar passie lê daarin dat dit op die platteland gaan oor verhoudinge met mense en die klein dingetjies wat jy vir individue kan leer wat dit dan weer onder vriende en familie versprei.
"Klein treetjies kan merkwaardige verandering teweeg bring."
Stuur 'n e-pos aan Lindsay-Michelle Meyer vir navrae oor die HSMS-projek. [email protected]