
HonsBRek-studente behaal uitstekende slaagsyfer in professionele eksamen
Die Skool vir Rekeningkunde is in sy skik met die slaagsyfer van 88% wat die HonsBRek-studente van 2018 in die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) se eerste professionele eksamen, oftewel die Initial Test of Competence (ITC), behaal het.
Dit is die eerste van twee eksamens wat deur die SAIGR afgeneem word en wat persone wat as geoktrooieerde rekenmeesters in Suid-Afrika wil kwalifiseer, suksesvol moet aflê. Die studente het die eksamen in Januarie vanjaar geskryf.
Met ˈn gemiddelde nasionale slaagsyfer van 76%, bevind US hom in die derde plek van die 16 SAIGR-geakkrediteerde universiteite in die land. US se me Anja Kanzler het ook die tiende plek landwyd behaal.
Die Universiteite van Pretoria en Noordwes beklee gesamentlik die eerste plek met ‘n slaagsyfer van 94% elk.
Prof Pieter von Wielligh, hoogleraar in ouditkunde en adjunkdirekteur: leer en onderrrig van die Skool vir Rekeningkunde, het verduidelik dat die eksamen deur ‘n rekord getal US-studente geskryf is, naamlik 280. Onder die residensiële universiteite het net die Universiteit van Kaapstad – met sy 372 studente – meer kandidate gehad.
"Die uitstekende prestasie van ons HonsBRek-studente van 2018 in die ITC onderstreep op ʼn baie konkrete en sigbare wyse die gehalte van die onderrig wat die Skool verskaf, maar natuurlik ook die gehalte van die studente wat die Skool trek," het prof Von Wielligh gesê.
"Die Skool vir Rekeningkunde is trots op sy 2018-honneursklas se uitstekende prestasie.”
Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het die Skool met al sy akademiese en administratiewe personeel gelukgewens. "Dis nie net diegene wat direk by onderrig in die honneursprogram betrokke is wat bydra tot die sukses van ons studente nie; die onderbou wat dit voorafgaan, is ewe belangrik.”