
Hersiene US Statuut tree in werking
Die Universiteit Stellenbosch (US) se nuwe Statuut (klik hier) is nou van krag nadat dit op 16 Augustus 2019 in die Staatskoerant gepubliseer is. Die US Raad het dit in November 2018 aanvaar en die Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Tegnologie het dit op 10 Julie 2019 onderteken. Oorgangsmaatreëls om uitvoering te gee aan die nuwe Statuut is tans in die beplanningsfase. Die Universiteit het 24 maande om die samestelling van ons statutêre liggame in lyn met die nuwe Statuut te bring.
ʼn Uitgebreide oorlegplegingsproses om die vorige Statuut (van 2016) te hersien het in Augustus 2017 'n aanvang geneem. 'n Taakgroep onder leiding van die Registrateur, dr Ronel Retief, het saam met deskundiges aan die nuwe dokument gewerk. Oorlegpleging het uit verskeie werksessies, ʼn maand lange proses van openbare deelname sowel as bydraes deur belanghebbendes soos fakulteitsrade, die Studenteraad (SR) en die uitvoerende bestuur van die Konvokasie bestaan.
Die Statuut is die US se grondwet. Dit bied die institusionele raamwerk vir die doeltreffende oorsigbestuur en administrasie van die Universiteit. Alle reëls, beleide of ander instrumente wat Universiteitsliggame en -amptenare neerlê, is onderworpe aan die Statuut.
Dit bepaal onder meer die samestelling en funksionering van die Raad, Senaat, fakulteitsrade, die SR, die Institusionele Forum en die Konvokasie. Dit sit die pligte en verantwoordelikhede van ampsdraers soos die Kanselier, Rektor en Visekanselier, viserektore, Bedryfshoof, Registrateur en dekane uiteen. Dit bevat bepalings oor skenkers, werknemers en studente. Boonop handel dit oor die kwalifikasies en eregrade wat die Universiteit verleen en toeken.
Die Statuut is op sy beurt onderworpe aan die Grondwet van Suid-Afrika, 1996, en moet ook met die Wet op Hoër Onderwys, 1997, strook. Dit verbind die Universiteit tot oop, deursigtige, verantwoordelike en verantwoordbare oorsigbestuur en administrasie, en bevat verskeie wigte en teenwigte om dít te verseker. Daarbenewens beoog die dokument om die Universiteitsgemeenskap te verenig in die strewe na akademiese en administratiewe uitnemendheid wat die samelewing in die geheel baat.
Die daarstel van Institusionele Reëls wat die bepalings in die Statuut sal ondersteun – 'n vereiste van die Wet op Hoër Onderwys – begin binnekort. Die nuwe Statuut is op die amptelike webblad vir beleide en regulasies van die Universiteit beskikbaar. Klik hier.