
GPS-nasporing help atlete om slimmer en meer doeltreffend te oefen
Om 'n studente-atleet se fisieke werklading op universiteitsvlak te bestuur, is baie belangrik vir die Maties Sport Hoëprestasie-eenheid (HP-eenheid).
Die VX Sport GPS-atleetnasporingstelsel is een van die baie instrumente wat deur Maties Sport se HP-eenheid gebruik word om seker te maak dat spanne en atlete slimmer en meer doeltreffend oefen.
"Vir jare kon ons nooit meet hoe ons spanne of atlete fisiek op die speelveld presteer nie. Die beste wat ons kon doen, was 'n ingeligte raaiskoot neem oor hoe moeilik of fisiek veeleisend 'n wedstryd of 'n oefensessie was, sonder die werklike getalle en statistieke om dit wat ons sien, te staaf of verkeerd te bewys. Die VX Sport GPS-stelsel laat ons toe om te meet hoe ons speel of oefen. Noudat ons toegang het tot die getalle en statistieke oor hoe ons speel, gee dit ons die geleentheid om krities te kyk na hoe doeltreffend ons ons spanne of studente-atlete afrig," verduidelik Grant van Velden van die HP-eenheid.
"Ons het oor die jare heen data oor 'n hele paar van ons spanne en studente-atlete ingesamel en dit het ons 'n idee gegee van hoe fisiek veeleisend wedstryde vir ons studente-atlete oor die verskillende sportkodes heen, sowel as oor verskillende posisies binne dieselfde sportkode heen, is. Ons wil uiteindelik hê ons spanne moet oefen soos hulle op die veld speel, en ons span die data en statistieke wat gedurende die wedstryde ingesamel word in om dit te bereik. Ons probeer om die intensiteit van wedstryde na te boots in oefeningsessies sodat ons slimmer en meer doeltreffend oefen met die beperkte tyd wat ons met ons studente-atlete het."
Van Velden verduidelik dat Maties se rugbyspan met die Varsitybeker-kompetisie verskeie kondisioneringswedstryde of kort spelstukkies (pockets) tydens oefensessies gespeel het. Hierdie spelstukkies was onder, bo óf teen dieselfde intensiteit as wat die spelers in 'n wedstryd sou ervaar.
"Met ons kennis van hoe intens 'n Varsitybeker-wedstryd teen 'n spesifieke opponent is, kan ons spelstukkies in die span se oefenweek posisioneer sodat ons hulle goed genoeg voorberei vir die intensiteit van die komende wedstryd of hulle laat herstel van die vorige week se wedstryd."
Volgens Van Velden is om toegang tot hierdie tipe nasporingstegnologie vir atlete te hê, baie relevant in die universiteitsomgewing.
"Studente-atlete is eerstens studente en dan atlete. As gevolg hiervan is hul akademiese verpligtinge gedurende die dag hul prioriteit. Dit laat ons met miskien twee uur se oefentyd in die laatmiddag/vroeë aand, twee tot drie keer per week as ons gelukkig is. Met hierdie beperkte kontaktyd moet ons slim en doeltreffend afrig, anders sal ons nie die oefensessie kan maksimeer tot sy volle potensiaal nie. Deur die statistieke en getalle wat ons van die GPS-eenhede kry, te gebruik, weet ons presies wat ons in 'n spesifieke oefensessie moet doen en kan ons die oefensessie ooreenkomstig ontwerp om daardie sessie se doelwitte te bereik."
Die HP-eenheid het tans 30 VX Sport GPS-eenhede – 15 van hulle is "regstreekse" eenhede.

"Regstreeks beteken dat ons gedurende 'n wedstryd dadelik op die skootrekenaar langs die veld kan sien wat met 'n speler op die speelveld gebeur. Onmiddellike veranderinge kan dan gemaak word as 'n speler tekens van moegheid toon of nie sekere fisieke mikpunte haal wat hy of sy gewoonlik in 'n wedstryd sou behaal nie. In 'n ideale wêreld sou oefensessies ook met regstreekse eenhede gemonitor word. Dit sou dan geleentheid gee vir kommunikasie tussen die afrigter, die sporttegnoloog en die kondisioneringafrigter om net daar en dan veranderinge aan te bring as die fisieke mikpunte nie bereik word nie."
Van Velden voeg by: "Wanneer 'n speler die GPS-eenheid aan het, is daar geen wegkruipplek op die veld nie. Atlete wat probeer kortpaaie neem, sal uitgevang word. Big Brother hou jou dop en in hierdie geval is Big Brother in die ruimte in die vorm van 'n satelliet wat nie net sien as 'n speler te min doen nie, maar ook as hy of sy te veel doen."
Van Velden waarsku egter dat om net die data en statistieke van die GPS te gebruik om te interpreteer hoe 'n atleet op die veld presteer, jou net die helfte van die storie vertel. GPS-data moet saam met video-data gebruik word. Die GPS-data kan wys dat 'n speler 9 km op die hokkieveld gehardloop het – wat baie is – maar dan sal die video wys dat hy dié afstand behaal het sonder dat dit die spel noemenswaardig beïnvloed het – hy of sy het soos 'n afkophoender rondgehardloop. 'n Ander speler mag dalk net 7 km aflê, maar sy of haar invloed op die spel is veel meer deurslaggewend. Deur dus verder te hardloop in 'n wedstryd beteken nie noodwendig jy was die beter speler of het 'n groter invloed op die wedstryd gehad nie. Die statistieke moet saam met die video-data geïnterpreteer word en dít is waarom video-ontleding self so belangrik is."

"Dit is 'n baie soortgelyke toernooi met wedstryde elke dag van die week. Ons het ook 'n aantal eerstejaars in ons span oor wie ons nog nie data kon insamel nie. Dit is belangrik dat ons verstaan wat die fisieke eise is wat aan nuwelinge gestel word en hoe hul liggaam reageer op en herstel ná vier dae se hokkie teen hoë intensiteit. Ons weet wat die fisieke eise aan elke speler is nog voor die USSA-toernooi begin het. Dit gee ons kans om die spelers beter voor te berei en die beste moontlike kans te gee om na die beste van hul vermoëns te speel."