Skip to main content
Global Education Centre stel kursus bekend om buitelandse studie te ondersteun

Global Education Centre stel kursus bekend om buitelandse studie te ondersteun

Joe Warren: Programme Manager: Global Learning
27 April 2021

​​US Internasionaal se Global Education Centre (GEC) het 'n nuwe Universiteit Stellenbosch- (US-)kortkursus, Study Abroad for Global Learning (SAGL), bekend gestel. Die doel van die semesterkursus, wat in Januarie 2021 van stapel gestuur is, is om studente se globale en interkulturele leerervaring te ondersteun terwyl hulle hetsy as deel van kontak- of virtuele mobiliteitsgeleenthede buitelandse studie onderneem.

 Die eerste inname van 29 deelnemers van 17 vennootinstellings verteenwoordig diverse vakgebiede en studievlakke, soos epidemiologie en teologie op PhD-vlak, ekonomie, geologie en sosiologie op magistervlak, en regsgeleerdheid en ingenieurswese op baccalaureusvlak. En hoewel die groep kleiner is as gevolg van COVID-19, blyk dit die ideale grootte vir die eerste aflewering van die kursus te wees.

 Die kursus behandel onderwerpe soos wêreldburgerskap, volhoubare ontwikkeling en tussenkultuurkommunikasie, en maak deel uit van 'n nuwe reeks inisiatiewe by die GEC om US-studente 'n transformerende studente-ervaring te bied. Onderwerpe word elke twee tot drie weke op die aanlyn leerbestuurstelsel vrygestel, en studente volg die meeste sessies teen hulle eie tempo. Deur spesiaal ontwerpte porboodskappe en joernaalaktiwiteite word hulle aangemoedig om 'n verband te lê tussen hulle ervarings in hulle gasheerlande en die konsepte en inhoud wat die fasiliteerders in die voorafgaande weke voorsien het. Die kursus loop uit op 'n finale projek, waarvoor studente 'n 'digitale verhaal' moet skryf en vervaardig om hulle leerervaring op 'n interaktiewe manier te beskryf. Die digitale verhale sal ook gebruik word om verskeie lande en US-vennootinstellings onder voornemende studente te bemark.

 Die innoverende kursus is deur GEC-personeel ontwikkel. Ná verskeie samewerkende ontwerpfases en interne beoordeling is proefaanbiedings gedoen en terugvoer van ander US-departemente en vennootinstellings ontvang. Ses GEC-lede fasiliteer komponente van die kortkursus, en ander geleenthede vir samewerkende aanlyn internasionale leer (COIL) en kortkursussamewerking het ook uit die proses voortgespruit.

 Hoewel die eerste aflewering van die kursus nog aan die gang is, blyk dit duidelik uit die studentejoernale dat die ervaring kritiese oordenking help aanmoedig, wat noodsaaklik is vir die ontwikkeling van wêreldburgers wat in die 21ste eeu kan floreer.