Skip to main content
Gesprekke oor deernis en Ubuntu

Gesprekke oor deernis en Ubuntu

Research Chair in Studies in Historical Trauma and Transformation
31 Oktober 2019

​Professor Pumla Gobodo-Madikizela, bekleër van die navorsingsleerstoel in Historiese Trauma en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch (US), is een van twee internasionale vakkundiges wat genooi is om aan gesprekke met die Dalai Lama rondom die tema “Deernis, Verbintenis en Transformasie" deel te neem.

Die ander kundige is die Amerikaanse evolusiebioloog David Wilson, 'n professor in Biologiese Wetenskappe en Antropologie aan die Binghamton-universiteit.

Die gesprek tussen prof Gobodo-Madikizela en die Dalai Lama, wat per regstreekse stroomuitsending op 1 November 2019 uitgesaai sal word, is 'n inisiatief van die Mind and Life-instituut, wat al vir 30 jaar saam met die Dalai Lama werk om begrip oor nadenkende wysheid te kweek en om die wetenskap in gesprek met hierdie kennis te plaas.

Een van die medestigters van die instituut was die bekende Chileense neurowetenskaplike Francisco Varela om gesprek tussen neurowetenskap en Boeddhisme te bevorder en om 'n brug tussen die wetenskap en nadenkende wysheid te bou en om mense se gedeelde menslikheid uit te lig en om daadwerklikheid aan te spoor.

Prof Gobodo-Madikizela, een van die voorste navorsers op die gebied van trauma, vergifnis en empatie, is op grond van haar boek, A Human Being Died that Night: A South African Story of Forgiveness, gekies om aan die geleentheid deel te neem. Dié boek is gegrond op haar gedagtes oor haar werk oor die Waarheid- en Versoeningskommissie, veral ure lange onderhoude met Eugene de Kock. Die boek is internasionaal baie goed ontvang het ook literêre pryse in die VSA en Suid-Afrika losgeslaan, en het al ses keer verskyn, insluitende vertalings in Italiaans, Duits, Koreaans en Nederlands.

Gobodo-Madikizela het gesê sy voel baie geëerd om by hierdie geleentheid betrokke te wees.

Volgens haar, strook die waardes wat die Dalai Lama verpersoonlik, met sommige van die US se waardes. “In die praktyk dui deernis en billikheid – wat deel uitmaak van ons kernwaardes – op verbintenis," het sy gesê. “Dit gaan oor die kweek van 'n gevoel van saamhorigheid op 'n manier wat die moontlikheid om vir ander in ons gemeenskap om te gee, skep."

*Die gesprek tussen prof Gobodo-Madikizela en die Dalai Lama kan op 1 November 2019 via regstreekse stroomuitsending by die volgende skakel, https://www.mindandlife.org/conversations-2019/, gevolg word.