Geslagsgebaseerde geweld: Genoeg is inderdaad genoeg
Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch
6 September 2019
Beste kollegas en studente
Geslagsgebaseerde geweld: Genoeg is inderdaad genoeg
Hoewel ek tans op reis is vir universiteitsake, volg ek die daaglikse gebeure in die hoëronderwyssektor en ons land aandagtig. Gisteraand moes ek baie vrae oor die situasie tuis en by die Universiteit Stellenbosch (US) beantwoord by 'n alumni-geleentheid waar ek die gasheer was.
Ons leef in 'n gebroke samelewing. Die gewelddadige aanvalle op universiteitstudente die afgelope paar dae het hierdie feit weer beklemtoon. Saam met my medebestuurslede en die res van die Stellenbosse universiteitsgemeenskap wil ek aansluit by so baie ander mense om my innige simpatie met ons buurinstellings, die Universiteit van Kaapstad en die Universiteit van Wes-Kaapland, te getuig met die tragiese afsterwe van onderskeidelik Jesse Hess en Uyinene Mrwetyana.
Die US het begrip vir hierdie verlies nadat ons die afgryslike sterftes van ons eie studente Robyn Pearce en Hannah Cornelius in 2018 moes verwerk. Ons wil ook ons medelye betoon aan die hartseer families van studente wat toekomsdrome gehad het en 'n betekenisvolle verskil in ons samelewing kon gemaak het.
Ek wil dit baie duidelik stel: Geslagsgebaseerde geweld is 'n vorm van burgeroorlog. Ons is as samelewing in 'n oorlog met onsself gewikkel en ons is besig om ons eie mense dood te maak en te beseer. Dit moet end kry. Ek stem heelhartig saam met ons Senior Direkteur: Studentesake, dr Choice Makhetha: Genoeg is inderdaad genoeg. In haar skrywe Woensdag aan ons studente het sy onder andere die mans in ons gemeenskappe uitgedaag om openlik teen die geweld op te staan. Hierdie stryd word al vir hopeloos te lank deur hoofsaaklik die vroue in ons samelewing aangevoer.
Ongelukkig lê die oplossings nie net opgesluit in beter veiligheids- en gebeurlikheidsmaatreëls, verbeterde polisiëring, 'n meer doeltreffende regstelsel of hoëprofiel veldtogte of versoekskrifte nie – hoewel al hierdie inisiatiewe beslis deel van die oplossing is. Die oplossing lê waarskynlik hoofsaaklik in 'n vernuwing in die harte en denke van ons as gewone burgers.
Prof Ahmed Bawa, HUB van Universities South Africa (USAF) deel hierdie siening in 'n verklaring wat vroeër vandeesweek uitgereik is, waarin hy sê dat die moord op me Mrwetyana 'n simptoom is van die baie siek en wrede samelewing waarin ons s'n ontaard het. “Hierdie moord herinner ons net weer daaraan hoe belangrik dit is dat die mans in ons land 'n standpunt moet inneem en aktief moet bydra tot die kweek van 'n samelewing wat meer omgee," het hy gesê.
Ek daag alle mans uit – maar veral ons US-personeel en -studente: Ons moet ons denke en gedrag onder die vergrootglas plaas. Al is ons nie almal skuldig aan geslagsgebaseerde misdade nie, begin die verandering op 'n mikrovlak – by jou en by my. Indien jy iemand verbaal aanval, of jy oor onvanpaste grappe lag of vernederende opmerkings maak, indien jy iemand agterna fluit en indien jou aanlyngedrag – selfs wat jy via WhatsApp aanstuur – onder verdenking is, is jy deel van hierdie onaanvaarbare kultuur.
Prof Bawa is reg in sy uitspraak dat universiteite Suid-Afrika na hierdie veranderinge moet lei. “Dit is nie genoeg vir ons instellings van hoër opleiding om maar net die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld te erken nie. Hulle moet stappe doen om die kultuur wat hierdie tipe geweld veroorsaak, te verander."
Xenofobiese aanvalle
Hoewel die samelewing se siekte van seksuele geweld tans sterk op die voorgrond is, moet ek ook gehoor gee aan die innige pleidooi van die internasionale studente by ons instelling om die onlangse xenofobiese aanvalle op die voorgrond te plaas. Ons het meer as 4 000 internasionale studente by die US, waarvan meer as 50% van ander Afrikalande afkomstig is. Ek haal een van ons studente aan: “Ek glo dat niemand, ongeag die omstandighede, in die huidige vrees wat in ons samelewing heers, hoef te leef nie, en daarom moet ons gesamentlik 'n sterk en openlike standpunt inneem vir dit wat ons voel REG en verkeerd is." Ons moet nee sê vir xenofobie. Ek wil ons internasionale studente verseker dat ons hul veiligheid en welstand ter harte neem. Julle dra by tot die rykdom van diversiteit binne ons kampusgemeenskap.
Die US se uitdagings
Net soos alle ander akademiese instellings en die wyer gemeenskap, worstel die Universiteit Stellenbosch met talle uitdagings. Ons kan altyd meer en beter doen, maar veralgemenings dat die US nog niks gedoen het vir diegene wat deur geslagsgebaseerde geweld geraak is of vir die veiligheidheid van ons studente nie, is eenvoudig onwaar.
Akademiese instellings landswyd is voortdurend besig om veiligheids- en sekuriteitsmaatreëls ten duurste op te skerp, veral by die US. Sommige nagraadse studente sal onthou dat ons tot 'n paar jaar gelede nog drie eksamensessies per dag gehad het. Assesseringskedules is egter weens veiligheidsredes aangepas sodat daar nie meer eksamens in die aand afgelê word nie; hierdeur is die aantal assesseringsessies van drie na twee per dag verminder. Toetsreekse in die kwartaal word vir 17:30 – die vroegste moontlike tyd na afloop van lesings – geskeduleer sodat studente tyd het om die toetslokale betyds te bereik en om te verseker dat studente die lokale nie later nie as 20:00–20:30 kan verlaat.
Vanweë die behoeftes van studente is die Eenheid vir Gelykwaardigheid in 2016 ingestel. Hierdie eenheid bevorder kollektiewe optrede ten gunste van maatskaplike geregtigheid en gespreksvoering oor maatskaplike ongelykhede en implementeer 'n omvattende MIV-respons. Die eenheid koördineer, onderrig en skep bewustheid oor seksualiteite, geslags-nie-geweld, MIV/vigs en antidiskriminasie. Die eenheid formuleer en hou toesig oor die implementering van die US se Beleid oor Onbillike Diskriminasie en Teistering, die bevindinge van die #EndRapeCulture 2017-verslag en die US se MIV/VIGS-beleid. Die eenheid, geleë in Huis Simon Nkoli (Victoriastraat 39), dien ook as 'n gesentraliseerde diens vir studente en personeel na voorvalle van onbillike diskriminasie en verskeie vorme van teistering.
Ek is bewus van die bewerings van seksuele wangedrag teen 'n US-personeellid wat vroeër vandeesweek aan die lig gekom het. Ons neem sulke bewerings baie ernstig op en die Eenheid vir Gelykwaardigheid het met 'n voorlopige ondersoek begin om die feite vas te stel. Personeellede en studente wat skuldig bevind word na afloop van regsgeldige prosesse, staar ernstige gevolge in die gesig. Ons kan egter nie 'n verhoor deur openbare mening of sosiale media ondersteun nie. Laat die institusionele prosesse hul gang gaan.
Ek wil 'n ernstige oproep op ons personeel en studente doen: Indien enigeen van julle aan seksuele geweld, teistering, diskriminasie of aanranding blootgestel is of was, moet julle asb jul ondervindings met ons Eenheid vir Gelykwaardigheid deel. Indien jy enige sulke voorvalle aanskou het of daarvan kan getuig, of indien vriende jou in hul vertroue geneem het oor so 'n voorval, moet jy hulle asb aanmoedig om met die Eenheid vir Gelykwaardigheid in verbinding te tree. Opgeleide personeel sal help met inligting oor die verskillende opsies. Ons het inligting of bewyse nodig om aantygings en beweringe te kan ondersoek.
Studente wat emosionele ondersteuning en berading na sulke voorvalle benodig, moet die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) kontak. Personeellede kan deur middel van die Welweeskantoor in die Afdeling Menslike Hulpbronne hulp kry.
Baie werk oor geslagsgeweld en xenofobie is ook al in akademiese vakrigtings gedoen. Die mees onlangse voorbeeld is gesprekke wat hiermee verband hou by die eerste Sosiale Geregtigheidspitsberaad en Internasionale Konferensie wat deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid en die Reg aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Regsgeleerdheid, gereël is. Klik hier vir meer inligting.
Institusionele waardes
Ter afsluiting wil ek graag ons kampusgemeenskap aan ons institusionele waardes herinner: uitnemendheid, deernis, billikheid, verantwoordbaarheid en respek, met die klem veral op die laaste twee aangesien dit aansluit by die temas wat nou onder die soeklig is. Ons definieer verantwoordbaarheid as “die aanvaarding van die hoogste vlak van verantwoordelikheid vir ons optrede". Ek wil dit graag verbind met my vroëere uitdaging aan al die US se mans.
Respek word algemeen goed verstaan, maar ons moet dit 'n stap verder neem om “beleefdheid in ons onderlinge en openbare diskoers, met behoorlike inagneming van almal se vryheid, gelykheid en waardigheid" in te sluit. Ons is verplig om hierdie beginsel in al ons interaksies toe te pas, selfs wanneer ons nie saamstem nie of 'n teenstellende siening het: in individuele besprekings, institusionele vergaderings, e-pos-korrespondensie en selfs op sosiale media.
Ons is daarvan bewus dat die US se bestuursbesluit om nie die akademiese verrigtinge vir vandag (Vrydag, 6 September) af te stel nie, nie byval gevind het by sommige studente nie. Ons benadering was om deelname aan byeenkomste in samehorigheid met nasionale inisiatiewe te fasiliteer waar moontlik, sonder om die geskeduleerde akademiese program omver te werp. Die kansellasie van 'n akademiese dag het verreikende gevolge en 'n rimpeluitwerking vir beide studente en personeel. Personeel en studente vir wie dit moontlik was, is aangemoedig om gister se verrigtinge in Kaapstad by te woon en daar is selfs vervoer verskaf. Om ons steun vir nasionale inisiatiewe te toon, het die Rektoraat die dekane, senior bestuurslede en ander personeel genooi om vandag 'n etensuurbyeenkoms op die Rooiplein by te woon sonder dat dit ons dienslewering aan studente nadelig raak.
Ons moenie moed opgee of moedeloos raak nie. Ons is dit aan huidige en toekomstige generasies verskuldig om aan te hou vir ons samelewing se algemene welstand se onthalwe, maar terwyl die toestand nog nie ideaal is in ons land of ons dorp nie, wil ek ons studente en personeel versoek: Wees asb waaksaam en oplettend ter wille van jul eie en ander se welstand, en gebruik die beskikbare dienste op ons kampusse.
Vriendelike groete
Prof Wim de VilliersRektor en Visekanselier