
Genootskap sal navorsing oor MIV bevorder
Dr Moleen Zunza, ʼn kenner op die gebied van borsvoeding deur MIV-positiewe ma's, het vroeër vanjaar die gesogte Janssen/CTN Internasionale Nadoktorale Genootskap ontvang om haar navorsing op dié gebied uit te brei.
Zunza beplan om met hierdie genootskap voort te bou op die navorsing oor die bevordering van borsvoeding deur MIV-geïnfekteerde moeders wat sy vir haar PhD-graad gedoen het. Sy is ʼn nadoktorale genoot aan die Eenheid vir Biostatistiek van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe van die Universiteit Stellenbosch (US).
Sy beplan om ʼn kliniese proefstudie, getiteld 'Die haalbaarheid en uitwerking van interaktiewe weeklikse selfoon-teksboodskappe en motiverende onderhoude om voortgesette borsvoeding by MIV-geïnfekteerde vroue te help volhou en bevorder', te doen.
"My belangstelling in hierdie onderwerp spruit uit my navorsing vir my PhD-graad," het sy gesê. As deel van dié navorsing, het Zunza ʼn prospektiewe kohortstudie onderneem onder babas wat nie met MIV geïnfekteer is nie, maar deur borsvoeding aan MIV blootgestel word. Sy het MIV-positiewe ma's se persoonlike keuse om óf te borsvoed óf formulemelk te gee, asook die invloed daarvan op hierdie babas se groei of hospitalisering as gevolg van aansteeklike siektes, geëvalueer.
Zunza het in Maart vanjaar haar PhD-graad in Pediatrie aan die US verwerf. Wat hierdie prestasie nog meer merkwaardig maak, is dat sy later op dieselfde dag ook die kwalifikasie BCom Honneurs in Toegepaste Statistiek ontvang het.
Die doel van die Janssen-genootskap is om individue voor te berei vir ʼn loopbaan in gesondheidsekonomie en uitkomsgebaseerde navorsing in die gesondheidsbedryf of die akademie. Zunza se genootskap is ʼn gesamentlike navorsingsprojek tussen die US en McMaster Universiteit in Kanada.