Skip to main content
Gee is omgee

Gee is omgee

Wilma Stassen
30 Junie 2016

Om om te gee en te versorg is twee eienskappe wat studente op die Tygerberg-kampus aangryp – en nie net as deel van hul studies nie, maar ook in hul daaglikse interaksie met mense.

Die skep van 'n gemeenskaplike spens waar behoeftige studente kos en ander basiese benodighede kan kry, het tot dusver toegewyde ondersteuning ontvang  van studente en personeel, maar meer hulp is nodig om die volhoubaarheid van die projek te verseker.

Die eerste spens is geskep by die Tygerberg Studenteraad (TSR) se kantoor toe die administratiewe hoof, Adri Brits, besef het daar is behoeftige studente op die Tygerberg-kampus maar dat dit nie altyd moontlik is om onmiddelik ondersteuning van hoofkampus te kry nie. "Dus het ons begin om 'n paar nie-bederfbare kositems in die kantoor aan te hou vir studente," sê Brits.

Die idee het aanklank gevind en nog 'n spens is by een van die koshuise op die Tygerberg-kampus, die tuiste van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), geskep.

"Die Kerkenberg-spens het in my kamer begin," sê Emeka Okeke, 'n finalejaar MB,ChB-student en inwoner by Kerkenberg wie self in moeilike tye gedurende sy derde- en vierdejaar nie genoeg kos gehad het nie. "Ek het nie geweet wie om vir hulp te vra nie, maar my vriende het besef dat ek myself onttrek en dat ek gewig verloor. Toe vertel ek hulle wat aangaan en hulle het saamgespan om my te help.

"Ek het besef daar is ander studente soos ek en sedertdien het my kamer 'n insamelings- en uitdeelpunt vir kos en ander items geword," sê Okeke.

Die projek het uitgebrei en buiten die twee insamelings- en uitdeelpunte (die TSR-kantoor in die Tygerberg-studentesentrum (TSS) en Kerkenberg-koshuis), is 'versamelingshouers' op verskeie punte op die kampus geplaas waar personeel en studente items kan skenk, en spense word ook beplan vir ander koshuise op die kampus.

"Tygerberg-studente het 'n plek nodig op hulle eie kampus waar hulle onmiddelik hulp kan ontvang, en dit is wat ons probeer doen," sê Brits.

Aanvanklik is slegs nie-bederfbare kositems soos blikkies- en droeë kos ingesamel, maar deesdae samel hulle ook toiletware, insluitende sanitêre produkte, in. Die projekleiers vra ook vir skenkings van gebruikte handboeke, teaterdrag en witjasse wat aan studente geskenk kan word wat dit nie kan bekostig nie. Finansiële skenkings is ook al aan behoeftige studente gedoen.

"'n Mens verwag nie hierdie vlak van armoede onder universiteitstudente nie want jy aanvaar hulle ouers sien om na hulle, of hulle het beurse," sê Okeke. "Maar party studente met beurse is die broodwinners in hulle huishoudings."

Baie studente is nooit geleer hoe om met geld te werk nie en sukkel om deur die maand te kom met hul toelae. "Ons kyk na maniere om studente te help om hulle geld beter te bestuur en beplan om finansiële raadgewing aan te bied om hulle te help met hul begrotings," sê Okeke.

Toegang tot die Kerkenberg-spens is grootliks op vertroue gegrond en in die drie jaar wat dit by Kerkenberg in gebruik is was daar slegs een geval waar iemand onnodig kos geneem het. "Die doel is om dit nie te polisieër nie, anders sal diegene wat dit regtig nodig het nie toegang daartoe hê nie," sê Okeke. Inteendeel; mense wat bydra tot die Kerkenberg-spens word ook aangemoedig om ook gebruik te maak daarvan sodat behoeftige studente nie uitgesonder word en mense hulle anders behandel nie.

"So partykeer gaan ek na die spens en neem goed en ander kere gaan plaas ek goed daarin, en ek moedig ander aan om dieselfde te doen. Dus weet niemand, buiten ek, wie behoeftig is nie," sê Okeke.

Om die projek aan die gang te hou nadat hy aan die einde van die jaar sy graad ontvang, handig Okeke die teuels van die Kerkenberg-spens oor aan jonger studente. Die Departement Pediatrie en Kindergesondheid het 'n projek van stapel gestuur wat behels dat Kerkenberg-inwoners inkopie-koepons van Pick 'n Pay kan verdien deur voor te lees aan pasiënte by die Tygerberg-kinderhospitaal. "Ons is baie dankbaar vir Pediatrie se ondersteuning aan die studente, en ons daag ander departemente uit om dieselfde te doen," sê Okeke.

Hy het ook spesiaal dankie gesê aan almal wat die projek ondersteun, en veral aan Brits, dr Karin Baatjes (Departement Chirurgiese Wetenskappe), dr Lizel Smit (Departement Pediatrie en Kindergesondheid) en prof Andrew Levin (Departement Anestesiologie en Kritieke Sorg).

"Hierdie is 'n simptoom van die groter kwessie van armoede, maar die probleem waarteen ons te staan kom is dat studente moet studeer, maar hulle is honger en hulle het kos nodig. 'n Pakkie kitsnoedels beteken baie meer as dit vir 'n honger student – dit is 'n maaltyd wat hulle vir die hele dag aan die gang hou. En ons is baie dankbaar vir elke skenking wat ons ontvang, hoe groot of klein dit ookal is," sê Okeke.

Die tema van "gee" is hierdie jaar deel van die FGGW se 60ste vieringe. "Hierdie is 'n wonderlike voorbeeld van Ubuntu op ons kampus waar studente en personeel saamwerk om mekaar te help," sê Ronel Bester, Strategiese Verhoudingsbestuurder by die FGGW. "As deel van die fakulteit se 60ste vieringe vanjaar hoop ons om die kultuur van gee en omgee tussen almal op die Tygerberg-kampus verder te koester. Ons moedig personeel aan om binne hulle eie voermoeë elke maand 'n paar items by te dra om studente te help wat somtyds in ernstige nood verkeer."

Skenkings van nie-bederfbare kos en toiletware kan afgegee word by die TSR-kantoor in kamer 2005 in die TSS, of geplaas word in een van die versamelingshouers by die Kliniese Gebou (voor kamer 1038) of die TSS (voor Fedics). Handboeke en klere kan ook ingehandig  word by die TSR-kantoor. Kontak Adri Brits by 021 931 1921 vir meer inligting.

Foto: Mnr Emeka Okeke