
Fotoverhaal help bestry diabetes
'n Lid van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se slag om fotoverhale (fotonovelas) te gebruik om die kollig op belangrike gesondheidskwessies te laat val, het erkenning ontvang van die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid. Dié departement het hom opdrag gegee om 'n storieboek vir die bewusmaking van diabetes te ontwikkel.
Fotonovelas beeld 'n dramatiese verhaal uit met geposeerde foto's en teksborrels of onderskrifte, en speel gewoonlik af in die alledaagse lewe.
Dr Burt Davis, 'n senior dosent aan die Afrika-sentrum vir MIV-/Vigsbestuur, het vroeër die fotoverhaal “Spyt kom te laat" ontwikkel as 'n hulpmiddel in die bestryding van tikverslawing in die Wes-Kaap.
Hy vertel dat 'n aanbieding by die Universiteit Stellenbosch se 9de jaarlikse Landelike Gesondheidsnavorsingsdag in Worcester oor sy tikfotoverhaal, daartoe gelei het dat hy dr Lizette Phillips, direkteur van Wes-Kaapse regeringsgesondheid in die Kaapse Wynlanddistrik, ontmoet het. Sy het 'n belangrike rol gespeel om die departement te oorreed om hom vir 'n soortgelyke projek oor diabetes in te span.
Diabetes is die tweede algemeenste oorsaak van dood in die land, volgens 'n verslag deur Statistiek Suid-Afrika oor sterftes en oorsake van dood. Die koste verbonde aan die siekte is ook kommerwekkend. Dit sluit in hospitaal- en medikasiekoste en ongeskiktheidstoelaes, sowel as indirekte koste soos werkafwesigheid, tydsbesteding aan siek familielede en verminderde produktiwiteit.
Die doel van die fotoverhaal oor diabetes is om pasiënte wat met dié siekte gediagnoseer is, te help om hul diagnose te aanvaar, asoook om mites rakende die siekte die nek in te slaan.
Davis het gesê dat die departement aangedui het dat die boekie jonger Kleurlingvroue in hul vroeë veertigerjare moet teiken. Dié kategorie mense in die Wynland-omgewing is geïdentifiseer as pasiënte wat sukkel om hul diagnose te aanvaar.
“Die rede waarom die departement ook op jonger mense wil konsentreer, is omdat hulle die onwaarheid uit die weg wil ruim dat diabetes net bejaarde mense beïnvloed. Navorsing van die Internasionale Diabetesfederasie toon dat 60 tot 80% van die diabetesverwante sterftes in Suid-Afrika voorkom by mense jonger as 60 jaar – die mees ekonomies aktiewe ouderdomsgroep van die bevolking," sê Davis.
Hy doen tans empiriese navorsing vir die projek wat einde Januarie 2020 amptelik van stapel gestuur sal word.
Die fotoverhaal sal deur personeel van die departement gebruik word vir die verskaffing van berading in klinieke en hospitale in die Wynland-distrik. Die boekie gaan in Afrikaans, Engels en isiXhosa beskikbaar gestel word.
Davis sê hoewel die gebruik van fotoverhale oor gesondheidskwessies nuut is in Suid-Afrika, kan dit bewusmaking- en voorkomingsveldtogte in skole en gesondheidsklinieke positief beïnvloed.
- Benewens die Wes-Kaapse Departement van Gesondheid, wat ook sal help met die druk- en vertaalkoste, het US se Afdeling Sosiale Impak dit vir Davis moontlik gemaak om die belangstelling van die departement te prikkel deur die ontwikkeling en publikasie van sy tikfotoverhaal te befonds.
- Foto: Dr Burt Davis