
FGGW navorser ook rats op die netbalbaan
Dr Léanie Kleynhans-Cornelissen (31) weet hoe om elke minuut van haar dag optimaal te benut.
Bedags is sy 'n navorser in die immunologie-navorsingseenheid in die Afdeling Molekulêre Biologie en Mensgenetika by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), en na-ure is sy ratse planmaker en strateeg op die netbalbaan. "Waneer ek saans by die huis kom word daar geëet, tyd saam met my man deurbring en dan weer voor die rekenaar ingeskuif."
Sy ding sedert haar skooldae op provinsiale vlak mee in netbal en het in 2007 Suid-Afrika verteenwoordig in die Spar Proteas-span. Vanjaar was sy kaptein van die Wes-Kaapse Southern Stings wat in die Brutal Fruit Premier-liga gespeel het. Sy speel ook vir die Kaapse Wynlande en op klubvlak vir Van der Stel-netbalklub in Stellenbosch. Haar posisie is aanvallende vleuel (AV).
"Die Brutal Fruit Premier-liga is die netbal-eweknie van die Super-reeks," verduidelik sy. Dit is ook die naaste wat netbal in die rigting van 'n professionele sport beweeg siende dat spelers nie vergoed word nie en dikwels self moet betaal om aan toernooie deel te neem. "Ten spyte daarvan neem ons deel omdat ons die sport geniet."
Vir haar is die lekkerste deel die tegniese aspekte van die spel en kan sy ná 'n produktiewe dag op kantoor 'n ander deel van haar brein inspan.
"Op die netbalbaan kan ek kreatief wees en myself uitdruk. Jy moet gedurig planne beraam om jou opponent te kan uitoorlê en haar spelpatrone raaksien."
Haar kantoorure is ook bedrywig: sy is mede-promotor vir ses nagraadse studente, bied klas op honneursvlak aan en is betrokke by die inrig en bestuur van laboratoriums in hul department. In haar navorsing, onder leiding van dr Katharina Ronacher, ondersoek sy tans die verband tussen TB en tipe 2-diabetes te ondersoek, 'n rigting wat haar geweldig interesseer.
Volgens haar moet 'n mens altyd sorg dat jy geniet wat jy doen. "Of dit nou werk, jou sport of jou stokperdjie is. As jy dit nie geniet nie raak dit moeite en sukkel 'n mens om gemotiveerd te bly."
Sy glo ook aan harde werk op beide sport- en werksgebied en haar toewyding ken bykans geen perke nie. Sy skryf haar tydsbeplannigsvernuf toe aan goeie gewoontes wat sy op skool reeds geleer het weens haar betrokkenheid by sport.
"Ek het nog altyd geglo hoe meer ek het om te doen, hoe meer kry ek gedoen." En dit is met dié leuse wat sy steeds elke dag aanpak.
Foto: Dr Léanie Kleynhans-Cornelissen (regs) op die netbalbaan.