
FGGW bestuur se standpunt oor nasionale protesaksie
Beste Kollegas en Studente
Die Dekaan se Bestuurspan is ontsteld oor die huidige krisis ten opsigte van goeie regering en verantwoordbaarheid in ons land. Ons wil openlik ons diepe kommer oor hierdie kwessies uitspreek en ʼn beroep doen op ons land se leiers om dringend stappe te doen om deursigtigheid, verantwoordbaarheid, integriteit, grondwetlikheid en etiese gedrag weer te laat geld in die Presidensie en die regering.
Ons het ook kennis geneem van die beroepe deur verskeie groeperings – insluitend burgerregtegroepe, politieke partye en godsdiensgemeenskappe – op landsburgers om stappe te doen en vir nasionale protesaksie om Vrydag 7 April 2017 plaas te vind. Ons wil graag ons volle ondersteuning uitspreek vir hierdie stappe en vir pogings om ons grondwetlike demokrasie te herstel en te red.
Die Aanhef tot die Grondwet van Suid-Afrika word nou prominent en met trots op ons kampus vertoon. Ons Grondwet bevorder onder meer die waardes van respek vir menswaardigheid, die bereiking van gelykheid, die bevordering van menseregte en vryhede, nierassigheid, nieseksisme, die oppergesag van die Grondwet en die heerskappy van die reg. Ons ondersteun die reg van landsburgers om hulle kommer uit te spreek oor kwessies wat ons Grondwet en ons land bedreig. Soos ons Dekaan dit by die onlangse onthulling van die Aanhef gestel het: “Ons duur verworwe demokrasie is gegrond in die Grondwet, en dit moet verdedig word. Ons moet aanhou om onsself te beywer vir die beskerming van die Grondwet en die waardes wat daarin vervat is uitleef.”
Ons erken die reg van personeellede en studente om hul menings en besorgdhede op verskeie maniere uit te spreek, insluitend wettige, vreedsame protesoptrede, en die Dekaan se Bestuurspan ondersteun diegene wat gaan deelneem aan die aktiwiteite wat vir 7 April 2017 in Kaapstad beplan word
Let asseblief daarop dat, soos voorheen deur die Rektor gekommunikeer, alle aktiwiteite aan die US en FGGW more sal voortgaan en dat ons kampus se normale bedrywighede voortgesit sal word. Ons wil diegene wat die saak ondersteun en wat nie more verlof gaan neem om aan aktiwiteite buite ons kampus deel te neem nie, uitnooi om by ons aan te sluit en solidariteit te toon met die nasionale protesaksie tydens ʼn vreedsame protesaksie op ons kampus.
Ons sal oor die middaguur op Vrydag 7 April (van 12:45-13:45) op die grasperk voor die Tygerberg Studentesentrum vergader. Die protesaksie geskied as ‘n “gemeenskapstaking” en sal die ruimte skep vir informele gesprekke oor die huidige verwikkelinge. Bring gerus u Suid-Afrikaanse vlae saam en maak u eie plakkate vir die geleentheid.
Ek hoop dat die van u wat ons besorgdheid deel en wat nie die aktiwiteite in Kaapstad kan bywoon nie, die byeenkoms op die Tygerberg-kampus sal kan bywoon.
Vriendelike groete
Prof Nico Gey van PittiusWaarnemende Dekaan. FGGW