
Fakulteit Natuurwetenskappe loods netwerk vir wiskunde- en wetenskapsonderwysers
Die Fakulteit Natuurwetenskappe het op 25 Augustus 2022 'n Wiskunde- en Wetenskapsonderwysersnetwerk (MSTN) geloods om die gaping tussen sekondêre en tersiêre onderwys in die fundamentele wetenskappe te oorbrug.
Volgens me. Maambele Khosa, werwingsbeampte van die Fakulteit Natuurwetenskappe en organiseerder, is die doel van die netwerk om 'n langtermyn-vennootskap met wiskunde- en wetenskapsonderwysers van die belangrikste voederskole in die Wes-Kaap te bou: ““Ons wil graag weet wat opvoeders as uitdagings in hul omgewing identifiseer, en hoe ons hulle moontlik kan ondersteun, of met reeds bestaande ondersteuningstrukture kan verbind," het sy gesê.
In haar verwelkomingstoespraak het prof Louise Warnich, Dekaan van die Fakulteit Natuurwetenskappe, gesê sy sien die verhouding tussen onderwysers en eerstejaarsdosente as 'n aflosspan wat die aflosstokkie van skool na universiteit oordra (met slegs 'n Desembervakansie tussenin): “Ons is dankbaar vir onderwysers wat leerders inspireer en nuwe geleenthede in die wetenskap vir hulle oopmaak", het sy bygevoeg.
Prof Ingrid Rewitzky, Visedekaan: Onderrig en Leer in die fakulteit, het die belangrikheid van 'n meer holistiese benadering tot studente se konsep van akademiese sukses beklemtoon: “Studente se sukses word nie noodwendig deur akademiese prestasie weerspieël nie. Ons wil hê ons studente moet die basiese wetenskappe gebruik om van die groot probleme wat die samelewing daar buite in die gesig staar, aan te pak. Maar die studente is bang vir mislukking, om nuwe dinge uit te probeer," het sy gewaarsku.
Eerstejaarsdosente van die Fakulteit Natuurwetenskappe het ook hul perspektief gegee oor hoe om die uitdaging van 'leer vir punte' (om toegelaat te word tot 'n spesifieke akademiese program op universiteit) die beste aan te spreek. Top studente sukkel dikwels wanneer hulle dan skielik met 'n leer-vir-verstaan-benadering in hul eerste jaar gekonfronteer word.
Dr Marietjie Lutz, van die Departement Chemie en Polimeerwetenskap, het gesê onderwysers moet 'n moeilike balans handhaaf tussen leer om punte te verdien en leer vir begrip: “Dit is baie hartseer om te sien hoe toppresterende leerders in hul eerste jaar op universiteit swaarkry wanneer hulle nie 'n basiese begrip van die vak het nie".
Dr Christine Landman van die Departement Fisika het ook die belangrikheid daarvan beklemtoon om nie voorbeelde uit die handboek te memoriseer nie. Eerder: “Hulle moet eintlik die handboek lees en die twee of drie onderliggende beginsels in elke hoofstuk verstaan, en dit dan in verskillende kontekste kan toepas".
Dit beteken dat dit soms beter is om met 'n probleem te worstel totdat jy dit regkry, in plaas daarvan om op tutors of memorandums uit ou vraestelle staat te maak, het hulle bygevoeg.
Ander eerstejaarsdosente het die vinnige pas van leer en verhoogde werkvolume beklemtoon: “Om op universiteit te studeer verg 'n ekstra vlak van leer – nie net effens meer as op skool nie," het prof Carol Simon van die Departement Plant- en Dierkunde gewaarsku. Dit beteken dat studente moet leer om komplekse inligting in meer basiese stukke af te breek, en om hulp te vra wanneer hulle sukkel.
Dr Phillip Southey van die Departement Wiskundige Wetenskappe het gesê van die eerstejaarstudente ervaar vir die eerste keer in hul lewens mislukking: “In stede van 'n liefde vir die vak, is hul identiteit en selfbeeld gekoppel aan goeie punte. Swak punte word dan ervaar as 'n mislukking, eerder as 'n uitdaging om die vakinhoud te bemeester."
Van die onderwysers
In die terugvoersessie het meer as een onderwyser genoem dat die huidige onderwysstelsel nie leer vir begrip toelaat nie. 'n Holistiese benadering en begrip word dikwels opgeoffer ter wille van goeie punte ten einde tot 'n spesifieke akademiese program toegelaat te word. Ander uitdagings sluit in 'n propvol sillabus en 'n gebrek aan tyd.
Onderwysers word ook gekonfronteer met oorgeërfde gapings van vorige grade, 'n akkumulerende gapingsprobleem wat op laerskoolvlak begin.
Ongeag al hierdie uitdagings, was daar ook wiskunde- en wetenskapsonderwysers wat hul konsep van die gebruik van bewysgebaseerde opvoedkundige metodes, soos diep wiskundige denke en spiraalhersiening, gedeel het.
Vir meer inligting oor soorgelyke geleenthede in die toekoms, kontak me. Maambele Khosa by [email protected]