Skip to main content
EWB-studente wen datawetenskapuitdaging van tegnothon

EWB-studente wen datawetenskapuitdaging van tegnothon

Daniel Bugan
06 Augustus 2019

Studente van die US Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe het in die datawetenskapafdeling van die Universiteit Stellenbosch (US) se tweede tegnothon (hackathon) met die louere weggestap.

Dié jaarlikse geleentheid, wat gedurende die naweek van 2 tot 4 Augustus in die hoofingenieursgebou plaasgevind het, is deur Innovus gereël en deur Entersekt, Capitec en Explore geborg.

Die doel van die tegnothon is om 'n kampuswye entrepreneurs- en innovasiekultuur te bevorder. Dit bring talentvolle studenteprogrammeerders, -ontwerpers, -bouers, -statistici,  -wetenskaplikes en –ingenieurs bymekaar om saam te leer, bou en skeppende idees uit te ruil terwyl hulle relevante bedryfsprobleme op 'n vernuwende manier oplos.

​Vanjaar was dit die eerste keer dat studente tussen twee uitdagings kon kies, nl. die datawetenskapuitdaging of ˈn finansiële tegnologie (finteg) koderingsuitdaging.Die finteg-uitdaging is geborg en saamgestel deur Capitec en Entersekt in samewerking met die Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese en die Departement Wiskundige Wetenskappe. 

Die datawetenskapuitdaging is geborg en saamgestel deur Capitec en Explore, in samewerking met met die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap.

Die tema van albei uitdagings was om nuttige en bekostigbare produkte en dienste te ontwerp vir verbruikers wat gebrekkige diensverskaffing ervaar en finansieël uitgesluit is.

Die datawetenskapuitdaging het van deelnemers vereis om die insig wat hul uit kliënte se transaksie-data verkry het, te gebruik om die volgende beste stap of wenk voor te stel. Dít moes gebaseer wees op wat die span uit die datawetenskap- of masjienleerproses wys geword het.

Die span bestaande uit David Rodwell, Christiaan le Roux en Robert Cronjé – almal meestersgraadstudente in Finansiёle Risikobestuur (FRB) in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap – was die wenners van die datawetenskapuitdaging. Hulle het hul kreatiewe probleemoplossings-, dataskoonmaak-, manipulasie- en visualiseringsvaardighede, asook hul ondervinding in statistiese ontleding die beste benut.

Mnr Carel van der Merwe, senior dosent in FRB by die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap, was in ekstase oor die span se prestasie.

“Daar was verskeie spanne van ons department wat deelgeneem het en die algehele kwaliteit van die voorleggings was baie hoog. Ek sien uit na ons voortgesette betrokkenheid by die kompetisie," het hy gesê.

​Die prysgeld vir die studente se oorwinning het hulle R15 000 in die sak gebring.

  • Foto: Die Hedge Back-span bestaande uit (v.l.n.r.) Christiaan le Roux, David Rodwell en Robert Cronjé wat die datawetenskapuitdaging gewen. Saam met hulle is mnr August Carstens (heel regs), datawetenskapbestuurder by Capitec, een van die borge.