
Emeritusprofessor as denkleier vereer
Prof Niël le Roux, emeritusprofessor in die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), is onlangs vir sy besondere bydrae tot die akademiese wêreld sowel as die bedryf vereer met die Suid-Afrikaanse Statistiese Vereniging se Denkleier-toekenning vir 2015 (deur SAS geborg).
In hul nominasiebrief het prof Sugnet Lubbe van die Departement Statistiese Wetenskappe van die Universiteit Kaapstad en prof Wille Conradie van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap by die US gesê prof Le Roux het oor die afgelope 40 jaar 'n uitsonderlike impak op die Suid-Afrikaanse statistiekgemeenskap gemaak.
"Benewens dit, het prof Le Roux 'n besonderse invloed op die lewe van baie Suid-Afrikaanse statistici gehad wat die voorreg gehad het om sy studente of kollegas te wees met sy betroubare wyse raad oor statistiekkwessies en die lewe in die algemeen."
Prof Le Roux was verras oor hierdie toekenning.
"Ek is baie dankbaar dat ek iewers langs die pad instrumenteel kon wees om die wonderlikhede van Statistiek met ander studente van die vak te kon deel en dalk enkeles ook nog kon inspireer."
Prof Le Roux se verbintenis met die US het 50 jaar gelede begin toe hy in 1966 as 'n junior lektor in die Departement Sielkunde aangestel is.
Twee voorgraadse grade, drie honneursgrade, drie meestersgrade en 'n doktorsgraad later het hy in 2004 as professor in die Departement Statistiek, ook by die US, "afgetree". Hy het egter dadelik 'n kontrakaanstelling met volle onderrig- en navorsingsverantwoordelikhede ontvang.
In 2009 is hy as deeltydse lektor gekontrakteer om nagraadse studente te onderrig en te lei en met sy navorsing voort te gaan. Hierdie kontrak is in 2016 verleng.
"Statistiek is ’n stokperdjie en dit is nie moeilik om opgewonde te wees oor iets waarvan jy hou nie. Ek is dankbaar vir die goeie gesondheid waarmee ek geseënd is, asook vir die besondere statistici met wie ek verhoudings kon bou. Daarsonder sou dit nie moontlik wees om my aftrede telkens uit te stel nie.
"Ek moet my dank uitspreek teenoor die US vir die geleenthede wat ek ontvang het. My lekkerste fase by die US duur nou reeds ongeveer 20 jaar vandat my navorsing gefokus geraak het op die grafiese voorstelling van meerdimensionel data."
Die NRF het onlangs 'n B-gradering aan prof Le Roux toegeken, wat beteken hy word nie net as 'n gevestigde navorser in sy veld beskou nie, maar dat hy ook besondere internasionale erkenning onder eweknieë geniet.
Prof Paul Mostert van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap aan die US het beklemtoon dat prof Le Roux 'n reusebydrae tot die akademiese wêreld, bedryf en algehele kennisgenerering gelewer het.
In die afgelope 10 jaar (sedert sy aftrede), het prof Le Roux twee boeke en 36 referate in eweknie-geresenseerde tydskrifte gepubliseer, slypskole plaaslik en oorsee aangebied, sewe referate gelewer by internasionale konferensies waarna hy genooi is en aan 30 konferensies nasionaal en internasionaal deelgeneem.
"Baie studente het by sy kennis gebaat," het prof Mostert bygevoeg.
Die leidende rol wat prof Le Roux in onderrig en die bevordering van die veld van statistiek speel, is in 1994 deur die US erken deur die Rektor se Toekenning vir Uitmuntendheid in Onderrig (een van die eerste groep van 10 lektore om die toekenning te ontvang) en die Rektor se Toekenning vir Uitmuntendheid in Navorsing in 2005.
Prof Le Roux was instrumenteel in die ontwikkeling van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap se eerste gestruktureerde meestersprogram In Wiskundige Statistiek. Wat betref nagraadse studieleiding, was prof Le Roux die studieleier vir drie PhD-tesisse en 27 meesterstesisse. Hy was ook medestudieleier vir verskeie verhandelings in Sielkunde, Geografie en Ondernemingsbestuur. Hy is tans die studieleier vir een meesters- en drie PhD-tesisse.
As navorser was prof Le Roux se mees betekenisvolle bydrae as hoofnavorser van 'n Biplot-projek wat sedert 2007 deur die NRF geborg word. Hierdie projek betrek nasionale en internasionale navorsers in die veld van veelveranderlike grafiese voorstellings en die ontwikkelings in biplot-metodologie wat met groot sukses in die bedryf geïmplementeer is.