
Eerste Internasionale Post-TB Simposium gehou in Stellenbosch
'n Onlangse twee-dag Post-TB simposium in Stellenbosch het bestaan uit 14 lesings en sewe werkswinkels wat aangebied is deur spesialiste uit 'n wye verskeidenheid dissiplines, insluitende klinici, rehabilitasie-spesialiste, wetenskaplikes, navorsers, pasiënt-verteenwoordigers, sosiale wetenskaplikes en voorstanders vir gesondheidsorg. Daar was 68 afgevaardigdes van vyf kontinente wat die simposium bygewoon het.
"Die simposium was uniek, aangesien dit die eerste keer ooit was wat mense by 'n alleenstaande Simposium ontmoet het om die probleme te bespreek wat pasiënte ervaar nadat hulle hulle tuberkulose-terapie voltooi het," volgens dr Brian Allwood, raadgewende pulmonoloog in die Afdeling Pulmonologie by die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch. Hy het ook gedien op die bestuurskomitee vir hierdie konferensie.
"Die meeste navorsing is gefokus op die diagnose en behandeling van tuberkulose, en baie min aandag word geskenk aan die ontelbare aantal mense wat hulle lewens moet voortsit met die letsels wat die siekte gelaat het op 'n fisiese, sielkundige en sosiale vlak. Dit was ook uniek daarin dat dit werklik 'n multi-dissiplinêre internasionale simposium was wat vele aspekte aangespreek het van die lewe na tuberkulose," het Allwood bygevoeg.
Hierdie werkende simposium, wat bestaan het uit oggendlesings en middagswerkswinkels, is gemik daarop om konsensus te bereik onder die afgevaardigdes om die huidige stand van kennis in die veld te definieer en ook om navorsingsprioriteite te identifiseer. Die besluit is ook geneem om die aantal afgevaardigdes te beperk om sodoende betekenisvolle bespreking en interaksie moontlik te maak.
Afgevaardigdes is verwelkom deur professor Wim de Villiers, Rektor en Vise-Kanselier van die Universiteit Stellenbosch. Hy het gemeld dat dit die eerste internasionale simposium in sy soort was, en het die belangrikheid beklemtoon van internasionale samewerking in die veld van navorsing.
"Dit is 'n belangrike aanduider van ons mededingendheid, dit verhoog die kwaliteit van die navorsing, en verbeter die doeltreffendheid en die effektiwiteit van die navorsing," het De Villiers gesê. "Die Universiteit Stellenbosch strewe daarna om Afrika se voorste navorsings-intensiewe universiteit te word, wat wêreldwyd erken word as synde van hoogstaande gehalte, wat inklusief en innoverend is, en waar ons kennis bevorder om sodoende 'n diens aan die gemeenskap te lewer."
Hy het die 150 bilaterale ooreenkomste gemeld wat die Universiteit Stellenbosch het met universiteite dwarsoor die wêreld in 45 lande asook die 120 samewerkende vennootskappe wat die universiteit het met 26 ander Afrika-universiteite.
Hy het ook die befondsers bedank wat die simposium moontlik gemaak het. Dit het die Universiteit Stellenbosch self ingesluit, asook bydraes van die IMPALA-genootskap (gelei deur die Liverpool se Skool vir Tropiese Geneeskunde), die UNION against Tuberculosis and Lung Diseases, en die Desmond Tutu TB-sentrum in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.
Die openingsrede is gelewer deur professor Eric Bateman, professor van Pulmonêre Geneeskunde by die Universiteit van Kaapstad.
Onderwerpe van die lesings en werkswinkels het gestrek van die suiwer mediese tot die sosio-ekonomiese tot die behandeling en bestuursaspekte van post-tuberkulose. 'n Sterk klem het geval op voorkomende sorg en op maniere waarop die gehalte van TB-sorg op verskeie vlakke verbeter kon word en ook moontlike verbeterings in verskillende gesondheidsopsette. Die laaste werkswinkel het ook spesifiek gekyk na hoe post-TB longsiekte tans bestuur word en na watter metodologie ingesluit behoort te word in toekomstige TB long-uitkomste ondersoeke.
"By die simposium was dit vir ons moontlik om aangesig-tot-aangesig ontmoetings tussen kenners te fasiliteer in 'n aantal verskillende gebiede sodat hulle die struikelblokke in die veld kon bespreek, terwyl ons ook terselfdertyd broodnodige voorbrand kon maak vir mense se behoeftes na hulle TB gehad het," volgens Allwood.
Aan die einde van die tweede dag was daar 'n algemene sessie waar terugvoering gegee kon word van die verskillende werkswinkels.
"Dit was ook vir ons moontlik om konsensus te bereik oor die term 'post-tuberkulose', wat tot nou nog nie heelhuids aanvaar of omskryf is nie, en om die pad vorentoe te beplan in terme van prioriteitsbehoeftes, beide in navorsing en op die vlak van bewusmaking. Ons was op daardie manier daartoe in staat om gesamentlik 'n padkaart op te stel vir die volgende paar jaar," het Allwood bygevoeg.