Skip to main content
​EBW gee hoop aan minder bevoorregte skole

​EBW gee hoop aan minder bevoorregte skole

Daniel Bugan
29 Augustus 2019

​Minder bevoorregte skole in die Stellenbosch-omgewing was onlangs aan die ontvangkant van die vrygewigheid van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) toe hulle donasies bestaande uit sanitêre doekies, toiletware en skryfbehoeftes ontvang het.

Die skole – Ikaya Laerskool in Kayamandi, Weber Gedenk Laerskool in Jamestown, Bruckner de Villiers Laerskool in Idasvallei, Jeuguitreik Stellenbosch en Dorothea Spesiale Skool in Cloetesville – het die skenkings ontvang as deel van die fakulteit se bydrae tot Mandela-dag en -maand.

​Die inisiatief van einde-Junie tot vroeg in Augustus het die insameling van sanitêre doekies, toiletware en skryfbehoeftes onder EBW-personeel, studente en die breë universiteitsgemeenskap behels.

Dié oproep tot aksie stem ooreen met die Mandeladag-doelwitte om gehalteonderwys aan alle kinders te bied, hongersnood uit te roei, ˈn veilige hawe vir gesinne en sanitasie aan elke skool en gemeenskap te voorsien, asook om meer hulpbronne aan die uitwissing van armoede te bestee.

Die inisiatief word namens die fakulteit deur prof Pregala Solosh Pillay, visedekaan: Sosiale Impak en Transformasie gelei. Die ander spanlede sluit in Reginald Kgwedi en Kurt Marais, albei dosente van die Departement Logistiek; Jennifer Saunders, Skool van Publieke Leierskap; Ursula Wanza, Departement Ekonomie; en Mokgesang Ramaisa, lid van die fakulteit se studentekomitee belas met sosiale verantwoordelikheid. Mev Lesinda Daniels van die dekaanskantoor het ook bygedra tot die suksesvolle implementering van die projek.

Pillay het gesê: “Ons verstaan die visie en belangrikheid van Mandela-dag. EBW wil dié etos nastreef deur gemeenskappe met te min hulpbronne te ondersteun. Dis ons eerste sosiale impak-inisiatief en ons hoop om dit tot 'n volhoubare projek te ontwikkel. Ons is daartoe verbind om 'n verskil te maak en positiewe veranderings in die lewens van mense in nood te maak. "

In die gees van onbaatsugtige diens het Pillay almal bedank vir hul bydraes en welwillendheid.

Die hoof van die Laerskool Ikaya, mnr Thulani Nofemele, het sy waardering uitgespreek vir die sanitêre doekies wat die skool van die fakulteit ontvang het.

“Die fakulteit help ons baie omdat ons leerders uit die armste gemeenskappe kom en nie die geld het om hierdie sanitêre doekies te kan bekostig nie, en soms onderwysers moet vra om hulle te help. Ek hoop dat dit nie net 'n eenmalige inisiatief is nie en dat die fakulteit sal aanhou om ons uit te help in die toekoms," het hy gesê.

  • Foto deur Daniel Bugan: By die oorhandiging van sanitêre doekies aan personeel en leerders van Ikaya Laerskool in Kayamandi, was (v.l.n.r.) EBW-dosent Kurt Marais; Ikaya-skoolhoof mnr Thulani Nofemele; EBW Visedekaan: Sosiale Impak en Transformasie, prof Solosh Pillay; Ikaya-wetenskaponderwyser me Tuswa Kutezwa; EBW-dosent Reginald Kgwedi; en ˈn verteenwoordiger van die EBW-studentekomitee, Mokgeseng Ramaisa.