
Duitse Paralimpiese kampioene besoek Maties Parasport-oefenkamp
Twee Duitse Paralimpiese kampioene het langs opkomende sportsterre met gestremdhede geoefen tydens 'n oefenkamp wat onlangs deur Maties Sport by Coetzenburg aangebied is.
Die oefensessie was gemik op atlete wat in Maart aan die Nedbank nasionale kampioenskapsbyeenkoms vir atlete met gestremdhede gaan deelneem.
Veldafrigter Karin le Roux, Paralimpiese atlete Zanele Situ, Fanie van der Merwe en Anika Pretorius, asook 'n aantal ander afrigters en derdejaarstudente in Sportwetenskap het die jong baan- en veldatlete bygestaan en raad en wenke met hulle gedeel.
Van der Merwe het ook 'n kort motiveringstoespraak gelewer.
Le Roux het 'n verrassing vir die gesete atlete gereël - sy het met die Duitse Paralimpiese gooiers gereël dat hulle hul by die oefengroep aansluit vir 'n oefensessie.
Die Duitse atlete, wat twee en 'n half weke in Stellenbosch spandeer het, het skouer aan skouer met die jong atlete geoefen.
Hulle het ook gereed gestaan vir 'n foto en vinnig gesels met Situ, wat in die verlede al teen hulle meegeding het.
Tussen Martina Willing en Marianne Buggenhagen het hulle al aan 11 Paralimpiese Spele gedeel en meer as 20 medaljes gewen in die velditems spiesgooi, gewigstoot en diskus. Willing is die huidige wêreldkampioen in spiesgooi (F56) en Buggenhagen is die huidige wêreldkampioen in diskus (F55).
Volgens Willing het hulle net goeie dinge van Stellenbosch gehoor en 'n groep van nege mense – afrigters en fisioterapeute ingesluit – het besluit om hier te kom oefen.
"Dit was die moeite werd. Dis pragtig hier, die fasiliteite is uitstekend en die gimnasium is wonderlik," het sy gesê.
Hoewel hulle hard geoefen het, was daar ook tyd om op uitstappies te gaan en het hulle onder meer Tafelberg en Kaappunt besoek.
Le Roux het gesê die jong atlete was verstom oor hoe die Duitsers oefen.
"Ek weet hulle het baie geleer deur na hulle te kyk en hulle is hopelik nou geïnspireer om so goed soos hulle te word," het sy bygevoeg.