
Drie Matie-afrigters op pad na Rio
Drie Matie-afrigters - Karin Hugo, Karin le Roux and Suzanne Ferreira – is onlangs gekies om saam met die Suid-Afrikaanse span na die Paralimpiese Spele in Rio te reis. Hulle vertel ons meer.
Karin Hugo (swem)
Die hoeveelste Paralimpiese Spele is dit vir jou?
Dit sal my derde Paralimpiese Spele wees. Athene in 2004 was my eerste en ek was daarna ook in Londen vir die 2012 Spele. Ek was tussen 2005 en 2010 betrokke by die Suid-Afrikaanse vroue-hokkiespan.
Wat as jy al ooit in Rio?
Ja, ek was al drie keer vantevore in Rio en twee keer in Sao Paulo (ook Brasilië). Ek was juis in April vanjaar daar by die byeenkoms toe die geriewe getoets is. Die kompetisie-swembad is baie indrukwekkend en die swemmers was baie tevrede met die kwaliteit van die swembad.
Hoe sal jy jou daaglikse roetine by die Spele beskryf?
Ons is baie besig aangesien ons gedurende die kompetisietydperk in die oggend uitdunne het en eindrondes in die aand. Ons staan vroeg op en gaan slaap laat. Ná middagete is daar gewoonlik tyd om 'n bietjie te ontspan voor ons weer swembad toe vertrek. Indien 'n swemmer nie elke dag deelneem nie, oefen hulle nog steeds twee keer per dag om die gevoel van die water te behou. Die swem by die Paralimpiese Spele is die langste swemkompetisie in die wêreld en strek oor agt dae.
Wat is die verwagtinge vir Rio?
Die 2016 SA Paralimpiese span is kleiner as die span by die vorige Spele. Die kompetisie word al hoe taaier en die atlete en afrigters moet ongelooflik hard werk om te presteer. Ek verwag dat die span 'n hele paar medaljes gaan verower, maar ek hoop dat elkeen hul beste prestasie sal haal; of dit 'n medalje is of nie. Wat die span so spesiaal maak, is dat hulle mekaar ondersteun en aanspoor tot hoër hoogtes.
Hoe spesiaal is dit om deel van die Spele te wees?
Dit bly 'n ongelooflike voorreg en wonderlike geleentheid om weer te kan gaan. Dit is 'n belewenis waarvan baie mense droom en baie hard voor werk. Ek is bevoorreg om Rio toe te kan gaan en wil almal bedank wat dit vir my moontlik maak.
Karin le Roux (atletiek)
Die hoeveelste Paralimpiese Spele is dit vir jou?
Dit is my tweede Paralimpiese Spele.
Wat as jy al ooit in Rio?
Ek was nog nie in Rio nie, maar ek was verlede jaar in Brasilië toe my atlete aan 'n kompetisie in Sao Paulo deelgeneem het.
Hoe sal jy jou daaglikse roetine by die Spele beskryf?
Die roetine by die Spele sal nie elke dag presies dieselfde wees nie. Die eerste twee dae probeer ons gewoonlik net gewoond raak aan alles en gaan kyk ons na al die geriewe sodat ek seker is waar die oefenbane is. Ek toets ook die vervoer sodat ons weet hoe lank die busritte is. Ek beskryf 'n afrigter se werk by die Spele om soos 'n spons te wees, waar ons alles wat die atleet moontlik kan beïnvloed "opsuig" en in die proses probeer om 'n perfekte omgewing vir kompetisie te skep sodat die atleet optimaal kan presteer.
Wat is die verwagtinge vir Rio?
Die Spele is die hoogtepunt van 'n vierjaarsiklus. Die atlete het soveel ure, weke en maande se harde werk ingesit en soveel opofferings gemaak. Dit is altyd moeilik om voorspellings te maak wat medaljes betref, maar waarvan ek wel seker is, is dat elke atleet wat SA gaan verteenwoordig hul absolute beste sal gee.
Hoe spesiaal is dit om deel van die Spele te wees?
Daar is nie altyd woorde om die ware gevoel te beskryf wanneer jy hoor jy is gekies as deel van die span nie. Ek is oorweldig met dankbaarheid om deel te kan wees en om die voorreg te hê om alles te kan ervaar saam met die atlete. Dit is 'n ongelooflike groot eer en voorreg.
Suzanne Ferreira (atletiek)
Die hoeveelste Paralimpiese Spele is dit vir jou?
Dit sal my vierde Paralimpiese Spele wees.
Wat as jy al ooit in Rio?
Ek was al in Sao Paulo, maar nog nooit in Rio nie.
Hoe sal jy jou daaglikse roetine by die Spele beskryf?
Ek dink nie daar is iets soos 'n vaste roetine by die Spele nie. Wanneer die atlete in aksie is, bepaal hulle grotendeels hoe my dag verloop. Ek probeer egter in die oggende ekstra vroeg opstaan sodat ek paar 'n oomblikke alleen kan wees. Hoe vroeg sal afhang van wanneer my atlete deelneem.
Op die bus na die baan is die atlete altyd gefokus en ek luister meestal na musiek. By die opwarmingsbaan ondersteun ek die atleet. Kyk wat nodig is, hou die tyd dop, strek dalk. Ek en my atlete het die gewoonte en behoefte om voor hulle moet aanmeld 'n laaste oomblik saam te spandeer, rustig te word en die geleentheid aan God oor te gee... Dit is baie spesiaal.
Ná die atleet se nommer warm ons af en gaan terug na die atlete-dorp. As atlete weer in die aand deelneem, sal die proses homself herhaal. Aandete op sulke dae wanneer daar dubbelsessies is, is gewoonlik rondom 22:00. Daar is 'n goeie kans dat jy nog 'n gesprek of drie sal hê voordat jy kamer toe gaan. Afrigters en spanbestuurders kry nooit meer as vyf uur slaap nie.
Wat is die verwagtinge vir Rio?
Verwagtinge? Dit hang seker af hoe jy daarna kyk en uit watter oogpunt. Persoonlik hoop ek dat die atlete in liggaam, siel en gees voorbereid is en op 'n plek is waar hulle hul potensiaal ten volle kan uitleef met vreugde. Dat hulle die geleentheid kan waardeer vir wat dit is. #RunFree. Ek glo as hulle op hierdie plek is, is enige prestasie die kersie op die koek. Medaljes en tye is wonderlike eindprodukte, maar nie die dryfveer vir my as afrigter nie.
Hoe spesiaal is dit om deel van die Paralimpiese Spele te wees?
Die Spele kom net elke vier jaar en die reis wat ek met elke atleet in die vier jaar het wat opbou tot dié hoogtepunt, is baie spesiaal. Die spangees van ons SA Paralimpiese span was nog altyd vir my 'n voorreg om te ervaar en deel van te wees.
Foto: Suzanne Ferreira en haar atlete. Fotokrediet: Bonzai Fotografie