
Dr Leslie van Rooi aangestel as Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie
Dr Leslie van Rooi, Hoof van die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskap (FVZS Instituut) by die Universiteit Stellenbosch (US), is onlangs aangewys as Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie. Hy sal die pos vanaf 1 Julie beklee.
Van Rooi sal oorhoofs verantwoordelik wees vir die US Museum, die US Woordfees, die Afdeling Sosiale Impak en die Transformasiekantoor. Sy portefeulje bied ook steun aan die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman.
Van Rooi moet ook die US se Sosiale Impak Strategiese Plan, sowel as ʼn Institusionele Transformasieplan implementeer deur onder meer strategiese interne en eksterne vennootskappe te vestig wat die doelstellings van die planne sal verwesenlik, die US se vordering en impak met betrekking tot Transformasie en Sosiale impak te meet, te toets en te versterk, sowel as om die US te rat vir voortdurende vernuwing.
Koopman sê Van Rooi is uitnemend toegerus vir die verantwoordelikheid wat op sy skouers gaan rus: "Ons is baie dankbaar dat ʼn persoon van sy kaliber hierdie belangrike pos kan beklee. Die pos was tevore die pos van Senior Direkteur: Gemeenskapsinteraksie. Dit funksioneer nou binne die nuwe raamwerk van sosiale impak en transformasie. Dr Van Rooi beskik oor baie goeie kundigheid en ervaring ten opsigte van hierdie temas. Ons is opgewonde dat hy die Universiteit se strewe sal dien om ʼn transformerende instelling te wees wat ʼn transformerende impak op die samelewing maak."
Van Rooi was agt jaar Hoof van die FVZS Instituut, geleë in die Afdeling Studentesake. "Dit het my die geleentheid gebied om op verskeie vlakke met studente aan die US en jongmense regoor Suid-Afrika te skakel. Op hierdie vlak het Sosiale Impak en Transformasie – ook deur onderrig en leer sowel as in praktyk, byvoorbeeld in ons koshuise – konkrete geleenthede geskep vir studente om nuut te dink oor ons instelling en oor hul rol in die samelewing."
Hoewel die US reeds op vele vlakke vordering met transformasie gemaak het, meen Van Rooi dat daar nog verskeie uitdagings is. "Ons relevansie en impak op die breë samelewing word steeds tot ʼn mate beperk omdat ons nog nie ten volle die waarde en impak van transformasie op verskeie vlakke kan waardeer nie.
"Ek dink my portefeulje kan juis in hierdie verband ʼn rol speel. Die werksaamhede van die afdelings waarvoor ek verantwoordelik is, kan ook gesamentlik en in vennootskap met ander US-omgewings stukrag verleen aan bestaande sowel as nuwe en innoverende inisiatiewe. Daarom sien ek dat die US Woordfees – insluitend WOW, Buya! en die universiteitskoor – sowel as die US Museum, soos ander US-entiteite, perfekte voertuie vir diepgaande sosiale impak op verskeie terreine is en nog meer kan wees."